Vyftig jaar propvol goue hoogtepunte vir Klipwerf Orkes

Die Klipwerf Orkes is terug met ’n splinternuwe album, 50 Jaar se Hoogtepunte, en dié album, wat pas vrygestel is, het reeds goue status bereik. Met hierdie album vier hulle die ongelooflike mylpaal van vyftig jaar in die Afrikaanse musiekbedryf deur hul grootste treffers op een album vas te vang.

Na 20 jaar het die Klipwerf Orkes hulle eerste album vrygestel en daarna aanhangers jaarliks met ’n nuwe album bederf. Met albumverkope van meer as 1,4 miljoen, is dié orkes een van die mees suksesvolle orkeste in Suid-Afrika. Uit 29 albums het sewe albums platinumstatus bereik en 22 albums goue status. Onder die hoogtepunte van hul loopbaan is verskeie SAMA-benoemings en die erkenning wat hulle deur die ATKV, vir die bevordering van Afrikaanse musiek, ontvang het.

Gedurende hul 40ste bestaansjaar het hulle ook ’n toekenning van die Hantam Vleisfees ontvang vir gewaardeerde bydrae tot die sukses van die fees.

Vir die Klipwerf Orkes was elke album ’n vreugde om aan te werk en elke album wat hulle uitgereik het, was ’n treffer wat verkope betref.

“Die heel eerste album wat ons uitgereik het, Kom kuier in die Hantam, sal ons altyd onthou. Dit was ’n ongelooflike ondervinding,” vertel Kobus.

Dié veelsydige orkes het ontstaan toe pa Hentie en sy twee seuns, Johann en Kobus, in 1969 by die huis begin musiekmaak het. Nadat die publiek van hulle gehoor het, was daar talle navrae vir die orkes om op te tree. Optredes het begin instroom – en die eerste optrede wat hul ook na aan die hart lê was op ’n plaas, Klipwerf. Hulle het daar en dan besluit die naam van hul orkes is Klipwerf en dit was die begin van groot sukses vir dié groep musikante.

Met die afsterwe van Hentie en Johann het daar ’n hervorming van die groep plaasgevind, om die perfekte kombinasie aan gehore te bied en dit is die Klipwerf Orkes wat jy vandag hoor.

Vir hulle album, 50 Jaar se Hoogtepunte, was die idee om ’n album saam te stel vir enige geleentheid en bevat die beste Klipwerf-treffers oor die jare, om te verseker dat daar iets vir almal is.

Kry vandag 50 Jaar se Hoogtepunte by alle goeie musiekwinkels. Diegene wat hul musiek aanlyn luister, kan na Klipwerf Orkes gaan luister op Apple Music en JOOX Musiek.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?