Tweede Classics is Groot ’n kleurvolle viering van musiek

Die tweede Classics is Groot beloof vele betowerende oomblikke – van ikoniese poptreffers tót geliefde klassieke musiek én ’n verrassing of twee wat gehore op die punte van hul stoele gaan hou.

Konsertgangers kan op 23 en 24 Junie by Moreleta Park Ouditorium in Pretoria uitsien na ’n uittreksel van The Phantom of the Opera, Elvis Presley se klassieke American Trilogy, Pie Jesu en Queen se klassieke The Show Must Go On.

Nóg hoogtepunte sluit in die super-duo Coleske se terugkeer na die verhoog vir die eerste keer sedert 2013, die Amerikaanse sanger Joseph Clark, bekend vir sy uitmuntende vertolkings van Freddie Mercury se Queen at the Opera en Nederlandse kinder-sangsensasie Amira, wat verlede jaar gehore geboei het.

Jannie Moolman, Corlea, Touch of Class, Swing City, Monique Steyn, Tarryn Lamb (van BlackByrd), pianis Charl du Plessis, die Akoestika-koor en ’n simfonie-orkes is saam met hulle op die verhoog.

Dit is nie nét die musiek wat gehore se asems gaan wegslaan nie. ’n Bykomende hoogtepunt is ’n optrede deur die wêreldberoemde Joburg Ballet Company, die grootste ballet-geselskap in Suid-Afrika – ’n eerste vir gehore in Pretoria.

“Dit is vir ons ’n voorreg om deel van Classics is Groot te wees. Almal op die verhoog, van die balletgeselskap tot die simfonie-orkes, is wat hierdie ’n wêreldklas produksie maak,” vertel Coleske, bekend vir hulle ongelooflike harmonieë en treffers soos My Only en Take Me Where The Sun Is Shining.

Moolman sê hy sien baie uit na Classics is Groot. “Hierdie musiek is waarmee my loopbaan begin het – ’n klassieke agtergrond met opera. Ek het vir 12 jaar saam met groot orkeste soos dié by Classics is Groot opgetree en dit is baie opwindend om weer deel van so ’n groot produksie in Suid-Afrika te wees.”

Vir Corlea is dit ’n ongelooflike voorreg om deel van Classics is Groot te wees en sy beskryf dit as “ ’n beeldskone ervaring om getuie te wees van al die Godgegewe talente op die verhoog, geskaaf tot perfeksie en vertolk met soveel emosie en kunssinnigheid.”

Classics is Groot is verlede jaar tydens Afrikaans is Groot bekendgestel en die reaksie was oorweldigend. Barry Pretorius, vervaardiger van Classics is Groot, sê: “Gehore was verlede jaar stomgeslaan met o.a. Touch of Class se Sound of Silence. Hierdie jaar het dié groep ’n nuwe verrassing en die gehoor gaan hul oë en ore nie glo nie.”

Classics is Groot word Vrydag, 23 Junie en Saterdag, 24 Junie om 19:30 in die Moreleta Park-ouditorium in Pretoria aangebied. Kaartjies is nóú aanlyn beskikbaar by TicketPro en pryse wissel tussen R350 en R625. Bly op die hoogte van Classics is Groot-nuus op Facebook en Twitter.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

© 2019 MyMatzikama. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?