Tonya Harding se storie kry lewe op die grootskerm

’n Driedubbele-draaisprong, ysskaatsrekord en al die tegniek in die wêreld, help niks as dit oorskadu word deur een van die mees sensasionele skandale van alle tye nie. I, Tonya, is ’n fliek wat gegrond is op die ware verhaal agter hierdie gebeure en sal jou op die punt van jou stoel hou… van begin tot einde.

Die voormalige ysskaatskampioen, Tonya Harding, vertolk deur Margot Robbie, was sterk op pad om een van die wêreld se grootste sportlegendes te word. Hierdie mededingende ysskaatser was van jongs af ambisieus en doelgerig. Sy is die eerste vroulike solo-deelnemer wat die VSA Ysskaatskampioenskappe in 1991 gewen het met ’n gradering van 6.0 vir tegniek. In dieselfde jaar, was sy ook die eerste vrou om ’n driedubbele-draaisprong by die Wêreldkampioenskappe te doen, waarna sy tweede in die kompetisie geëindig het. Dit is egter nie waarvoor sy onthou word nie, maar eerder vir haar betrokkenheid in ’n mislukte aanval op haar grootste teenstaander, Nancy Kerrigan (Caitlin Carver), deur haar eksman (Sebastian Stan) en lyfwag (Paul Walter Hauser) wat haar loopbaandrome verpletter het.

I, Tonya is ’n donker komedie-drama, uit die pen van Steven Rogers (Hope Floats, Stepmom), wat die storie vertel van ’n talentvolle sportster wie se sukses gepootjie word deur haar ongelukkige kinderjare, ma se mishandeling en stormagtige verhoudings. Hierdie treffende film, met Australiaanse regisseur Craig Gillespie (Lars and the Real Girl, Fright Night), word eers in Februarie 2018 vrygestel, maar spog reeds met verskeie benoemings van internasionale Rolprentfeeste, waaronder Beste Speelfim en Beste Aktrise by die Gotham-toekennings in November 2017 en Beste Aktrise in ’n Hoofrol, Beste Aktrise in ’n Ondersteunende Rol en Beste Redigering (Tatiana S. Riegel) by die Independent Spirit Awards wat in Maart 2018 plaasvind. Allison Janney, wat die rol van Tonya se hartelose ma – LaVona Golden – speel, het ook weggestap met die toekenning vir Beste Aktrise in ’n Ondersteunende Rol by vanjaar se Hollywood Rolprenttoekennings. Hierdie bekroonde verhoogaktrise is veral bekend vir haar rolle in The West Wing, American Beauty en Juno.

Die fliek spog verder ook met ’n puik rolverdeling en het reeds baie lof ontvang vir uitstekende vertolkings deur die hoofrolspelers. Margot Robbie, wat bekend is vir flieks soos About Time, The Wolf of Wall Street, Focus, The Legend of Tarzan en Suicide Squad. Sy word geprys vir haar vertoling van die rol van Harding in hierdie aangrypende verhaal, terwyl Sebastian Stan die rol van haar eksman, Jeff Gillooly, speel. Hierdie aantreklike akteur van New York was al in verskeie televisiereekse soos Law and Order en Gossip Girl te sien en het ook rolle gehad in die Captain America-fliekreeks, Riki and the Flash, The Martian en vele meer.

Hoewel jy vir ’n oomblik mag dink dat hierdie rolprent eintlik die gek skeer met die harteloosheid van poniekoerante en -tydskrifte, besef jy baie gou dat dit oor meer gaan as wat jy op die oppervlak sien.

I, Tonya beloof om kykers diep te tref, nie net omdat die toneelspel en regie puik is nie, maar ook omdat dit op ’n manier die onskuld bewys van ’n vrou wat deur die wêreld veroordeel en deur haar geliefdes vertrap is. “Die rolprent plaas die situasie in perspektief en help om Tonya uit te beeld as dit wat sy nog altyd was: ’n talentvolle ysskaatser en ’n mens met ’n droom, wat deur die wêreld gesteel is,” sê Owen Gleiberman van Variety.

Die fliek word versprei deur Ster-Kinekor Entertainment en sal landswyd vrygestel word op 16 Februarie 2018.

Kyk lokprent hier: www.youtube.com/watch?v=dQpBf04inPQ

Sosiale media skakels:
Facebook: https://www.facebook.com/ITonyaMovie/
Twitter: @ItonyaMovie
Instagram: @itonyamovie

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?