Spesiale KKNK-kuierbuurtpromosie op Oudtshoorn

Weekkaartjies vir die KKNK se splinternuwe Kuierbuurt (die feesterrein voorheen bekend as die Rivierbuurt) word op Maandag, 22 Januarie en Dinsdag, 23 Januarie teen ’n spesiale winskoop-prys in die voorportaal van die Burgersentrum op Oudtshoorn verkoop.

“Ons moedig alle Oudtshoorniete aan om hierdie eksklusiewe Kuierbuurt weekkaartjie-aanbod op een van dié twee dae te koop, om sodoende seker te maak dat hulle ál sewe feesdae kan feesvier,” sê  Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die KKNK aanbied.

Die nuwe Kuierbuurt, geleë op die Oudtshoorn-sportgronde en die Vredestraat-sportterrein, bied hope vermaak vir die hele gesin en is die tuiste van onder meer die Kunsmark se stalletjies, die Huisgenoot-verhoog met topkunstenaars en nuwe stemme wat saans vermaak onder die Klein Karoo-sterre verskaf, die Castle Lager-verhoog waar musiek deur die dag aangebied word, Liplekker se heerlike wyn- en deli-produkte, ATKV-Speelbos met hope doendinge vir die jongspan, waaronder Uitkampteater-produksies, asook ander kroeë en rusareas.

“Weekkaartjies vir die Kuierbuurt word op dié twee dae teen slegs R175 per kaartjie verkoop teen ’n besparing van R80 per kaartjie. Dit is die ekwivalent van slegs R25 per dag vir ál die topvermaak in die feesterrein,” verduidelik Theart.

Die aandvertonings op die Huisgenoot-verhoog, wat in die formaat van piekniek-ervarings aangebied word, sluit onder meer in: Awê Kaktus (29 Maart 19:30) met Mi Casa, Spoegwolf, Matthew Mole en Majozi; kykNET – Dans op die vlaktes (30 Maart 19:30) met Kurt Darren, Leah, Craig Lucas (The Voice), Paxton (Idols) Germandt Geldenhuys (Binnelanders), Nadia Beukes (Getroud met rugby), Stephanie Baartman (Getroud met rugby) en ander; Karoo-nag (31 Maart 19:30) met Adam Tas, Refentse, Joshua na die Reën, Karin Kortjé, Caroline Grace en Fatman; Boontoe: Engelstemme (1 April 19:30) met Jo Black, Robbie Wessels, André Terblanche, Corlea Botha, Thembeka, Kyle Seconna, Hoërskool Oudtshoorn se Ad Astra-koor en orkes, Melissa van der Spuy, Tim Rankin, Henry Steele en Schalk van der Merwe; Sterrenag – Musiek met hart (2 April 19:30) met Jay, Leah, Pieter Koen, Willem Botha, Lee Scott en ander; en Rymklets van Oos tot Wes (3 April 19:30) met HemelBesem, Yoma, Early B, Oxijin, DJ J-EFX, Yugi Yo en MC IXA. Feesgangers kan hul eie stoele en ’n kombers bring om ’n heerlike aand hier te geniet.

Theart sê hierdie winskoop-kaartjies is op Maandag, 22 Januarie van 09:00 tot 17:00 en op Dinsdag, 23 Januarie van 09:00 tot 14:00 slegs in die voorportaal van die Burgersentrum (op die hoek van Langenhoven- en Voortrekkerweg) op Oudtshoorn beskikbaar. Daar is geen beperking op die aantal kaartjies wat per persoon gekoop kan word nie.

“Ons hoop om alle Oudtshoorniete deur die loop van dié twee dae by die Burgersentrum te sien,” sluit hy af.

Die feesprogram van die 24ste KKNK word op Maandag, 22 Januarie, op Oudtshoorn bekend gestel en algemene kaartjieverkope open op Dinsdag, 23 Januarie by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home. Die KKNK word oor Paasnaweek van Donderdag, 29 Maart tot Woensdag, 4 April op Oudtshoorn aangebied.

Berig verskaf deur sterre.co.za/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?