Sewe nuwe programme dié Januarie op VIA

Die Afrikaanse leefstylkanaal VIA (DStv-kanaal 147) spog met sewe splinternuwe TV-programme in die nuwe jaar. Of jy van landbou of die liefde hou, jy sal hope kykgenot in Januarie op VIA kry.

Leënes-sindroom is vir baie ouers ’n werklikheid, veral as die kinders in ’n ander dorp of stad woon. In Daar doer, wat op 8 Januarie begin, word niksvermoedende kinders met tuiskos verras. Ons bekyk die verhoudings tussen ouers en kinders – en die één gereg wat daardie band kenmerk. Maandae om 18:00, met heruitsendings op Sondae om 16:30.

’n Insiggewende nuwe program wat 9 Januarie begin, is Landbouweekliks. Die aanbieder Ivor Price rol sy moue op en ontmoet van die mees besondere boere in Suid-Afrika. Dié program gaan oor alles wat inspirerend en innoverend in die landboubedryf is en is in vennootskap met Landbouweekblad geskep. Dinsdae om 19:30, met heruitsendings op Sondae om 17:30.

Die Afrikaanse internetsensasie Radio Raps is vanaf 12 Januarie ook op die TV te sien met sy komediewerklikheidsprogram, Die Radio Raps show. Die kameras volg die gewilde Jonathan terwyl hy op ’n vars en skreeusnaakse maniere allerlei sake takel. Vrydae om 20:00, met heruitsendings op Saterdae om 18:00.

In Genoeg, wat op 15 Januarie begin, volg ons een persoon se maandelange gewigsverliesreis – binne net 30 minute. Die dapper deelnemers word bygestaan deur ’n kennerspaneel wat hulle sal help om die uitdaging nie net fisies nie, maar ook geestelik aan te pak. Maandae om 17:30, met heruitsendings op Sondae om 15:00. Trippe, trappe, tone is ’n danskompetisie vir kinders wat deur Bianca le Grange aangebied word. Twaalf junior danspaartjies gaan week na week die dansvloer probeer tem. Brandon Eilers Le Riche van Strictly Come Dancing-faam en die ballerina Diani Gernandt is die beoordelaars. Vanaf 17 Januarie, Woensdae om 17:00 met heruitsendings op Sondae om 14:00.

Op die maatsoek-en-kosprogram Ete vir twee het mense wat hul lyf graag Kupido wil hou, die geleentheid om twee van hul enkellopende vriende wat mekaar nie ken nie op ’n romantiese afspraak te stuur. Maar daar is ’n kinkel: Kupido moet gasheer speel en kook terwyl ons twee enkellopendes die koskritici moet wees. Vanaf 23 Januarie, Dinsdae om 18:00 met heruitsendings op Saterdae om 22:00. Die werklikheidsprogram Noodlig, wat op 31 Januarie begin, bied ’n blik op die doen en late van ’n span ER24-paramedici. Ons kameras volg nege paramedici in ambulanse en op tonele waar hulle veg om lewens te red. Donderdae om 21:00, met heruitsendings op Sondae om 22:00.

TV-roosters vir VIA is in Afrikaanse koerante, Huisgenoot, tvplus en op viatv.co.za en dstv.com beskikbaar. Volg VIA TV op Facebook en @viatv op Instagram om op die hoogte te bly van al die nuutste verwikkelinge. Vir nog besonderhede oor die programme of aanbieders, kontak Saskia Hill by saskia.hill@media24.com of besoek viatv.co.za

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?