SA Jagters hofaansoek en SAPD appél

Ná maande se hofsake het die Gautengse Hooggeregshof op Dinsdag 4 Julie verklaar dat twee artikels (Artikel 24 en 28) wat handel oor die besit en lisensiëring van vuurwapens ongrondwetlik is en dat alle vuurwapenlisensies wat onder die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) verval het, steeds geldig is. Die parlement het 18 maande om die betrokke wet in lyn met die grondwet te bring.

Volgens mnr. Fred Camphor, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters), het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) reeds formeel kennis gegee van hul voorneme om by die Grondwethof te appelleer.

“Die SAPD se appèI skort die implementering van die uitspraak van Regter Ronel Tolmay op totdat die appèl afgehandel is en die uitspraak bevestig, of dit wysig. Dit plaas ons terug in presies dieselfde posisie waar ons was direk voordat Regter Tolmay die uitspraak gelewer het,” sê Camphor.

Volgens Camphor het hulle intussen ’n persverklaring van die SAPD ontvang wat bevestig dat hulle geen individu sal vervolg wat in besit is van ’n vuurwapen waarvan die lisensie verval het nie en dat hulle ook geen vuurwapens wat reeds ingehandig is omdat die lisensie verval het, sal vernietig nie.

“Ons is nou in ’n baie interessante posisie. Amptelik moet ’n appèl na die Appèlhof gerig word, maar in hierdie geval het die SAPD besluit om direk by die Grondwethof te appelleer. Die hofreëls bepaal normaalweg die prosedure wat gevolg moet word, maar dit maak nie voorsiening vir ’n appèl direk na die Grondwethof nie,” verduidelik Camphor.

Sou die Hoofregter besluit dat die appèl voortgaan, sal hy volgens Camphor die proses voorskryf wat gevolg moet word ten opsigte van hoeveel tyd die Applikant (Minister van Polisie) gegun word om hofdokumente te lewer, sowel as die tyd wat die Respondent (SA Jagters) sou kry om op die Polisie se dokumente te reageer. Eers daarna kan ’n datum vasgestel word wanneer die appèl aangehoor sal word.

“Die Hof is nou in reses tot einde Julie. Dit is onwaarskynlik dat ons enige inligting sal ontvang voor ongeveer middel Augustus 2017,” sê Camphor.

SA Jagters wil hul lede en lede van die publiek soos volg adviseer:
Indien u ’n vuurwapenlisensie het wat gaan verval, doen asseblief betyds aansoek om die lisensie te hernu. Voltooi die aansoekvorm, voeg die ondersteunende dokumentasie by en handig die aansoek in by u plaaslike AVB soos die wet vereis.
Indien u reeds ’n vuurwapen waarvan die lisensie verval het by die Polisie ingehandig het, behou die bewyse daarvan en moet asseblief nog nie u vuurwapen gaan terugvra nie. Dit sal nie aan u teruggegee word nie. (Onthou die Polisie het reeds onderneem dat hulle geen vuurwapens wat ingehandig is sal vernietig nie).
Indien u in besit is van ’n vuurwapen waarvan die lisensie verval het, hou dit veilig in die kluis en moet dit verkieslik nie gebruik nie. (Onthou die Polisie het onderneem om niemand te vervolg wat in besit van sodanige wapen is nie).

Die volledige appél kan hier gelees word en die volledige uitspraak kan hier gelees word.
Vir meer besonderhede of inligting besoek SA Jagters se webwerf by www.sahunters.co.za of kontak hul deur ’n e-pos te stuur na admin@sahunt.co.za.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

© 2019 MyMatzikama. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?