Oor ’n rapsie meer as ’n week skop die eerste In Afrikaans konsertreeks af

Die eerste In Afrikaans konsertreeks skop oor ’n rapsie meer as ’n week – op 20 Desember – by die Hartenbos ATKV-amfiteater af en dié gewilde vakansiedorp gaan wemel met van Suid-Afrika se top kunstenaars. Met groot name soos Kurt Darren, Jay, Lianie May, Karen Zoid, Brendan Peyper en Robbie Wessels wat almal hier in aksie gaan wees, moet jy vinnig spring as jy nog jou kaartjies moet kry.

Die eerste konsert, Dans in Afrikaans, is in die kol om jou in die regte stemming vir die vakansie te kry. Konsertgangers sal die heelaand kan skoffel saam met Kurt Darren, Jay & Lianie May, Juan Boucher en Ricus Nel. Boonop word ’n reuse dansvloer spesiaal vir dié konsert opgestel en hoef niemand huis toe te gaan ná die laaste kunstenaar se optrede nie. Die gewildste sokkietreffers sal aanhou speel ná afloop van die konsert sodat daar tot vroegoggend geskoffel kan word.

“Ons gaan die dansvloer laat brand,” het Kurt Darren opgewonde oor dié vertoning gesê en as Hartenbos dieselfde is as vorige jare, kan dié immergewilde sokkiekoning nie verkeerd wees nie.

Op ’n meer gewyde noot kan vakansiegangers op Oukersaand saam met Robbie Wessels, Douvoordag, Jo Black en Leah hulde bring aan die Skepper. Kom as gesin en sing Kersliedere by kerslig. Tydens hierdie vertoning kan jy ook jou hart oopmaak vir diegene by die Hartenbos Bejaardesorgsentrum wat ’n feesseisoen soos hierdie dalk alleen, of bekommerd oor die toekoms, moet deurbring. Alle skenkings van hierdie aand is ten bate van die sentrum.

’n Hoogtepunt op die Hartenbos-strandfront is die span van JOOX wat vanjaar saam met vakansiegangers sal kuier. Dié musiekstroom-app wat tans op almal se lippe is, bied met die komplimente van die In Afrikaans konsertreeks, gratis BBP-lidmaatskap aan alle musiekliefhebbers. Jy kan dus regstreeks na jou gunsteling musiek luister en dit aflaai om weer én weer daarna te luister. Dit is so maklik – laai JOOX van jou Android of IOS App-winkel af en registreer. Tik die kode “inafrikaans” in en ontvang een maand se gratis BBP-toegang! JOOX het ook ’n speellys spesiaal vir dié konsertreeks saamgestel en jy kan nou al daarna begin luister. Jou gunsteling kunstenaar se musiek was nog nooit so maklik binne bereik nie!

Behalwe vir die musiek wat aangebied word, bied Hartenbos as ’n bestemming ook verskeie aktiwiteite aan besoekers. Hartenbos spog met ’n verhitte swembad, mini-gholfbaan, ’n waterpark vir waaghalsige waterliefhebbers én ’n klouterpaleis vir babas, kleuters en tieners waar die klim-, swaai-, gly- en hangaktiwiteite ontwikkeling aanmoedig terwyl die jongspan hulself gate uit geniet.

As die Kersinkopies nog nie klaar is nie, of jy net iets spesiaals wil byvoeg, is die In Afrikaans winkel beslis ’n besoek werd. Items van die kunstenaars sal daar verkoop word – en dit sluit ’n prettige T-hemp van Jo Black in!

Die konsertreeks vind plaas op 20, 24, 26, 27 en 30 Desember, asook op 4 Januarie 2018 by ATKV-Hartenbos se amfiteater. As jy dus in die omgewing is, koop nou al jou kaartjies by www.itickets.co.za.

Bring jou kampstoel en kombers en kom kuier lekker saam met jou gunsteling Afrikaanse kunstenaars. Daar sal ook kosstalletjies en ’n kroegtent wees, asook CD’s en ander goedere wat verkoop sal word.

Die datums en vertonings vir die konsertreeks is:

Woensdag 20 Desember om 19:30: Dans In Afrikaans – Kurt Darren, Juan Boucher, Jay en Lianie May, Ricus Nel. Plus ’n reuse dansvloer waar daar lekker gesokkie kan word!

Sondag 24 Desember om 19:30: Kersfees In Afrikaans – Robbie Wessels, Jo Black, Douvoordag, Leah. Alle skenkings gaan aan die Hartenbos Bejaardesorgsentrum.
Dinsdag 26 Desember om 20:00: Fliek In Afrikaans – Susters met Leah, Diaan Lawrenson, Quanita Adams, Sean Marco Vorster.

Woensdag 27 Desember om 19:30: Mnr. & Mej. Hartenbos – Jan Bloukaas, Leah, Brendan Peyper, Karlien van Jaarsveld, Georic Lomas.

Saterdag 30 Desember om 19:30: Hartenbos In Afrikaans – Theuns Jordaan, Robbie Wessels, Karen Zoid, Jo Black, Appel, Elvis Blue, Refentse, Lianie May, Dewald Wasserfall, Leah, Bok van Blerk, Karlien van Jaarsveld en Fatman.

Donderdag 4 Januarie 2018 om 19:30: Akoesties In Afrikaans – Theuns Jordaan, Riana Nel, Elvis Blue, Jo Black.

Kaartjies beskikbaar by www.itickets.co.za of 086 1000 291.

Uitgereik vir Inhoud Huis Musiek (In Afrikaans):

Vir navrae kontak:
Jacomien de Villiers
E-pos: jacomien@inhoudhuis.co.za
Sel: 076 964 6472

Uitgereik deur Lumico:

Vir navrae kontak:
Vicki Rothman
E-pos: vicki@lumico.co.za
Sel: 063 107 3620

               

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?