Mandela-dag vier menswaardigheid

Julie is hier en ’n besige skedule lê vir baie van ons voor. Die jolige atmosfeer van die skoolvakansie is nog tasbaar. Helfte van ons wil net onder ’n kombers inkruip en waak teen die koue. Ouers kan ook nie wag vir die skoolvakansie om tot ’n einde te kom nie. Daar is wel een baie belangrike dag wat elke Suid-Afrikaner fyn moet beplan in die maand van Julie: Mandela-dag.

Vanjaar is dit 100 jaar sedert oud-president Nelson Mandela se geboorte. Suid-Afrika tel al sedert 9 April 2018 die eenhonderd dae af tot Madiba se spesiale dag. Mandela-dag word elke jaar gevier op Nelson Mandela se geboortedag – 18 Julie. Die dag word gevier deur vir slegs 67 minute iets goedhartig by te dra tot jou gemeenskap en sodoende verandering bring tot ’n behoeftige individu of gemeenskap se lewens.

Hoekom 67 minute? Nelson Mandela het 67 jaar geveg vir sosiale geregtigheid, waarvan hy 27 jaar op Robbeneiland aangehou is vir sy verbintenis met terroristebedrywighede in ’n land waar ’n apartheids-regering die oorhand gehad het. Hy is in 1990 vrygelaat en in 1994 word hy die land se staatspresident. Hy lei die land tot in ’n vrye demokrasie en word die mees geliefste president van Suid-Afrika. Sy lewenswerk is beslis motivering vir elke landsburger om by te dra tot die land se welstand.

Daar is nog genoeg tyd om te besluit wat jy kan doen vir jou gemeenskap op Mandela-dag, maar om jou dag te beplan sal beslis help as jou daaglikse skedule altyd vol is. Hier is ’n paar voorstelle wat jy kan volg:

  • Raak ontslae van ou klere en gee aan diegene wat minder behoeftig is. Baie van ons dra nie eens die helfte van die klere in ons klerekas nie.
  • Besoek ’n ouetehuis en laat jou gemeenskap se bejaardes spesiaal en menswaardig voel. Neem beskuit of enige lekkernye saam en knoop waardevolle geselsies aan. Jy sal verbaas wees wat jy kan leer by jou gemeenskap se wyse seniors. Hulle het immers meer lewenservaring as jy.
  • Om ’n maaltyd aan iemand te gee wat minder het, kan baie beteken vir die persoon. Jy kan ook ’n kos- of toiletwarepakkie bymekaar kry en aan die individu oorhandig.
  • Jy en jou vriende kan ook aanbied om iemand se huis op te knap met ’n nuwe laag verf, tuinwerk doen, dooie lampe vervang, druppende krane te herstel, en so meer.
  • Help om die koue winter te beveg en skenk komberse aan organisasies wat haweloses huisves.

Die opsies is eindeloos om iemand weer menswaardig te laat voel. Jy kan selfs ’n werklose persoon help om werk te kry of sélf werk aanbied. Beplan dus goed en maak ’n positiewe verandering in jou gemeenskap. Vergeet van slegs 67 minute se goedhartigheid en oortref jouself deur meer tyd te bestee om jou gemeenskap op te bou op Mandela-dag.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?