Loslitdag om die draai

Loslitdag, die land se grootste fondsinsamelings- en bewusmakingsprojek vir persone met gestremdhede, vind vanjaar op Vrydag, 1 September, plaas. Die projek behoort aan en word beheer deur die Nasionale Raad vir Persone met Liggaamlike Gestremdheid in Suid-Afrika en word jaarliks georganiseer deur die raad se Loslitdag-span.

Volgens Carin Conradie, maatskaplike werker van die Olifantsriviervereniging vir Persone met Gestremdhede (OVPG) op Vredendal, is die Loslitdag-tema vir vanjaar Diversiteit.

“Die tema maak dit baie wyd, sodat mense lekker kreatief kan dink oor hoe hulle anders kan aantrek as gewoonlik,” sê Conradie.

“Loslitdag is ’n spesiale dag wanneer almal opstaan en sê ‘sien ons mense raak, erken hulle andersheid, sien hulle sterk punte raak en oorweeg om ’n persoon met ’n gestremdheid jou vriend of werknemer te maak’,” sê Conradie.

Die plakkers wat deur die ander organisasies, winkels en banke in die gemeenskap verkoop word, gaan volgens Conradie alles in die groot nasionale poel wat dan later onder alle deelnemende organisasies verdeel sal word. Sy voeg by dat van die plakkers wat hulle verkoop bly 60% van die geld by hulle organisasie en die ander 40% moet hulle terugstuur na die Nasionale Raad vir Persone met Liggaamlike Gestremdheid in Suid-Afrika .

“Die OVPG kry ’n subsidie van die departement vir maatskaplike ontwikkeling, maar dit is ver te min om net ons basiese salarisse, brandstof, projekte, volwasse en kindergroepe en bedryfskoste te dek, en daarom is elke fondsinsamelingsprojek vir die OVPG van kardinale belang,” sê Conradie.

Die publiek moet daarop let dat Loslitdag vanjaar saam met Lentedag op 1 September val en, indien mense wil snaaks/anders aantrek sal dit volgens Conradie oneties wees om dit te doen sonder om die plakkers te koop en te dra.

“Ons wil graag mense aanmoedig om voor die tyd hulle plakker te koop en die dag vet pret te maak, dus vra ons (die OVPG) die gemeenskap om plakkers by ons te koop, sodat ons die meeste baat daarby kan vind,” sê Conradie.

“Loslitdag is ’n bewusmakingsdag van ons organisasie en ons kantoor gaan die area van Doringbaai, Strandfontein, Papendorp, Ebenhaesar, Koekenaap en Lutzville besoek en so gaan sê ons ook dankie vir die organisasies en individue wat ons die afgelope jaar ondersteun het, sê Conradie.

Die plakkers vir Loslitdag is by die Olifantsriviervereniging vir Persone met Gestremdhede (OVPG) kantoor in Vredendal te koop teen R10 elk. Vir meer inligting kontak die hulle by 027 213 5764.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

© 2019 MyMatzikama. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?