Langarmdans ten bate van seun met kanker

Jayton Thomas, ’n 12-jarige seuntjie van Vredendal-Noord, ly aan breinstam-glioom. Breinstam-glioom is ’n breinkanker waar ’n gewas in die brein ontwikkel en verder versprei kan word in die senuweestelsel. Daar is dus geen genesende behandelingsopsies nie.

Jayton het van Januarie tot Maart vanjaar preliatiewe bestraling ontvang. Hoewel hy daarna verbeter het, het dokters steeds tekens van serebellêre disfunksie gevind.

Sy ouers sukkel finansieel om al Jayton se dokters- en hospitaalafsprake te befonds. Die medikasie is egter ook peperduur en hulle moet elke keer baie geld daarvoor opdok.

“Jayton kan uiteindelik normaal sluk en daarvoor is ek baie bly. Hy tel ook verskriklik gewig op as gevolg van medikasie wat sy eetlus aanhelp,” sê Marcia Engelbrecht, moeder van Jayton.

Vredendal Polisiediens help met befondsing deur Saterdagaand, 25 November ’n langarmdans in die Vredendal-Noord Gemeenskapsaal aan te bied. Die langarmsdans begin stiptelik om 20:00 en diegene wie se voete jeuk om die dansvloer te roer, sal vermaak word met die polisie se eie musiekband. Die kaartjies beloop om R40 per persoon en kan by Jakkerland Speelkring te Vredendal-Noord afgehaal word. Diegene wat nie daar sal kan uitkom nie, kan ook by die deur betaal.

Die polisie beplan ook om ’n sangaand ten bate van Jayton in die toekoms te reël. Hulle nooi dus gewillige gemeenskapslede om handjie by te sit.

“Dit is ’n ongelooflike gevoel om te weet daar is mense wat omgee en wat gewillig is om te help,” sê Jayton se pa, Patrick Thomas.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?