KykNET vier 18 jaar op die kassie

Die Afrikaanse kanaal, kykNET, is amptelik mondig. Ons kyk terug na so ’n paar hoogtepunte oor die afgelope 18 jaar.

1999
kykNET begin op 15 November uitsaai. Dit is die eerste satelliet-TV-kanaal wat net in Afrikaans uitsaai. Die eerste program is Emma Koe Lê Ma. Op 17 November begin Kwêla vir die eerste keer uitsaai, wat dít een van die oudste programme op kykNET maak.

2000
Liriekeraai met Soli Philander maak sy buiging op 15 Januarie.

2001
Elana Afrika skop haar loopbaan af as aanbieder van die jeugprogram, Jip. Haar mede-aanbieder is Henré Pretorius.

2002
Die kosprogram, Van Pampoen tot Perlemoen skop op 3 April af met Sonia Cabano as aanbieder.

2003
Song vir Katryn met Valiant Swart en Therese Benade in die hoofrol skop op 10 April af.

2004
Villa Rosa begin op 4 Oktober. Ná 2283 episodes groet dié sepie kykers op 31 Maart 2016.

2005
Die eerste episode van Binnelanders word op 13 Oktober uitgesaai. Hans Strydom en Nadia Valvekens was van dag een af betrokke.

Hier Gaan Ons Alweer, die hengelprogram met Petri de Wet, saai op 2 Junie uit. Vanjaar word die sestiende seisoen uitgesaai.

Die musiekkanaal, MK, wat bekend gestaan het as MK 89 – omdat dit op kanaal 89 uitgesaai is – sien die lig.

2006
Die eerste Afrikaanse Idols skop 28 Mei af. Sean Else is die aanbieder en die beoordelaars Deon Maas, Taliep Petersen en Mynie Grové. Die wenner is Dewald Louw.

2007
Hester en Ester Bester, met Lizz Meiring, Karen Wessels en Marisa Bosman, begin 7 Julie.

2008
Jukebox se eerste uitsending met Kurt Darren as aanbieder begin 6 April. Pieter Koen neem 12 Junie 2011 by hom oor.

Boer Soek ’n Vrou se eerste seisoen met Elma Postma as aanbieder begin op 30 September. Die tiende seisoen met Minki van der Westhuizen as aanbieder is tans op die kassie.

2009
Karen Meiring word as kanaalhoof aangestel.

Kykers maak kennis met Molly en Wors en hul twee kinders Vaatjie en Blapsie.

2010
kykNET verdubbel die tydsduur van sy premie-tydgleuf. Dié tydgleuf bestaan uit meer ure en lok meer kykers danksy die groter verskeidenheid kykgenot.

18 Julie begin kykNET in samewerking met e.tv, ’n nuusbulletin om 19:00 uitsaai. Freek Robinson en LiMari Louw is die nuuslesers.

2011
Die Fiësta-toekennings word vir die eerste keer uitgedeel.

Die eerste Silwerskermfees word op Prince Albert aangebied. Die volgende jaar verskuif die fees na Kampsbaai waar dit steeds aangebied word.

2012
Die eerste Ghoema-toekennings met kykNET as hoofborg word op 11 Maart uitgedeel.
Die musiekkanaal – kykNET Musiek – wat nou as kykNET NOU, bekend staan word gebore.
kykNET begin op 12 Augustus in hoëdefinisie uitsaai.

2013
kykNET & Kie is op 9 April gebore. Inhoud wat reeds op kykNET uitgesaai is, word op dié kanaal uitgesaai en daar is ook heelwat nuwe programme.

2014
Die eerste reeks van Die Republiek van Zoid Afrika begin op 10 Julie uitsaai. Die reeks lewer talle nommer 1-treffers op Apple Music in Suid-Afrika.

Die eerste kykNET-Rapport-boekpryse word op 21 November oorhandig.
Die fliekkanaal fliekNET saai vir die eerste keer flieks uit van 10 Desember tot 31 Januarie 2015.

2015
Suidooster word op 16 November uitgesaai op kykNET en kykNET & Kie. Dis die eerste sepie in Suid-Afrika wat in die Kaap afspeel.

2016
Die Boekklub is kykNET se nuwe dramareeks en saai van 12 Januarie uit.
Getroud met Rugby se formaat verander van dramareeks na sepie en begin op 4 April uitsaai.

2017
Sara se Geheim – wat van 11 April uitgesaai word – hou kykers vasgenael. Die tweede seisoen word tans verfilm.

Berig verskaf deur Sterre. Vir nog opwindende nuus en artikels, besoek Sterre se webtuiste by sterre.co.za/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?