Katolieke jeug besoek Durban

Verlede week – van 6 tot 9 Desember – het jeugverteenwoordigers van die Rooms Katolieke kerke in die Olifantsrivier-streek, ’n geestelike kamp in Durban bygewoon.

Twintig van die Keimoes-Upington Bisdom, twee jeugdiges van die streek asook jeug koördineerders Vivian Diergaardt en vader Niksen het die Mini World Youth Day bygewoon. Katolieke jeugdiges van lande soos Swaziland en Zimbabwe het ook die kamp bygewoon.

Die tema van die week is geneem uit Lukas 1:49 wat sê: “Omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het – Heilig is Sy Naam!”

Met hul aankoms het die jeugdiges hul registrasie voltooi en toe Durban verken. Die tweede dag moes hul almal in tradisionele drag geklee wees en so het hulle elke dag kategetiese sessies bygewoon waarby verskeie sprekers die jeugdiges toegespreek het.

“Ek was baie verbaas om te sien hoe baie priesters en biskoppe daar in die Katolieke Kerk is,” sê Raymunda Owies, jeug-voorsitter van die Vredendal gemeente.

Hulle het die aand ’n kulturele jeugfees gehad waar die jeugdiges een geword het deur mekaar beter te leer ken en ’n bietjie pret te hê.

Die volgende dag het hulle begin deur die Rosekrans te bid, ’n Heilige Mis is gelei deur kardinaal Napier en daarna het hul ’n lewendige kruisweg gehou.

“Die persone wat die kruisweg opgevoer het, het die gehoor regtig die emosie van Jesus se kruisiging laat voel,” sê jeugkoördineerder, Vivian Diergaardt.

Die aand het hulle ’n Catholics got Talent kompetisie gehou. Jeugdiges moes inskryf en persone soos kardinaal Napier het beoordelaar gespeel.

“Dit het ons net gewys dat die jeugdiges nie skaam is om te spog met die talente wat God ons gegee het nie,” vertel vader Niksen, priester van die Vredendal-gemeente.

“Ons het die volgende dag by ons kategetiese sessie geleer oor hoekom die kerk so streng is teen seks voor die huwelik. Die sprekers het dit baie duidelik en mooi oorgedra,” vertel Owies.

Na die kategetiese sessie het hulle ’n Heilige Mis bygewoon wat deur biskop Edward Risi gelei is. Daar is ook getuienisse gelewer en meer is uitgebrei oor anti-human trafficking.

Hulle het toe ’n lof- en aanbiddingsessie gehou wat gevolg het met ’n afsluitingsdiens om die derde Sondag van advent te vier.

“Die week in Durban was ’n belewenis! Nie net omdat ons lekker op Durban se strand kon baljaar nie, maar ook omdat ons so baie geleer het. Die kamp het my regtig nog meer trots laat voel om Katoliek te wees en ek wens ander mense kon dit ook bywoon om ’n beter en duideliker prentjie van ons geloof te kry,” vertel Owies.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?