Kansa se Shades of Blue veldtog bring nuwe hoop en bewusmaking

Mansgesondheid is die fokus vir November en met hierdie in gedagte het Kansa op Vredendal, besluit om op prostaat- en testikulêre kanker te fokus. PSA-toetsing is een van die belangrike voorkomende toetse wat deur bloedtrek gedoen kan word. Sodoende weet mans hulle status en kan kanker vroeër opgespoor word. Genetika speel ’n belangrike rol in PSA-toetsing. Mans met kanker in hul familiegeskiedenis moet reeds op ’n vroeë ouderdom begin met PSA-toetsing. Pathcare is Kansa se vennoot en doen bloedtrekkings in November.

Met dié bewusmakingveldtog in gedagte het Kansa op Vredendal besluit om drie sprekers te nader vir hul Shades of Blue: Blue Cuppa for Men-geleentheid wat op Vrydag, 9 November by Idma Kapel net buite Vredendal plaasgevind het. Mark Pilgrim, bekende voormalige televisie- en radio-aanbieder en kankeroorwinnaar het reeds op die ouderdom van agtien testikulêre kanker ontwikkel. Hy het vertel oor die vroeë opsporing van kanker en ook hoe die siekte jou as man beïnvloed. Vandag is hy 38 jaar oud en steeds kankervry met ’n gesin en ’n vol lewe. Dr. Fanie Tredoux het gefokus op die prostaatondersoek wat dokters doen, asook gesonde leefstyl en risiko-faktore vir mans. Hy het ook die belangrikheid van jaarlikse ondersoeke beklemtoon en hoe belangrik dit is om te weet wat jou status is.

Die middag is afgesluit met Marius Visagie, ’n plaaslike kankeroorwinnaar wat in 2017 met testikulêre kanker gediagnoseer is. Hy het vertel oor die pad wat hy en sy vrou met kanker gestap het. Sowat 140 mans en vroue het die dag bygewoon.  

Kansa het hierdie geleentheid hoofsaaklik as ’n bemarkingsgeleentheid geloods, asook as bewusmaking vir die dienste wat hulle in die Matzikama en Cederberg bied. Hulle wil graag die publiek nooi om betrokke te raak as vrywilligers. Vir verdere navrae kontak Adele Maass 027 213 5919 / 083 627 7759, Karlien Wessels en Hanli van Zyl by 027 422 1280.

Op die foto is die Kansa-personeel met Mark Pilgrim (heel regs).

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

© 2019 MyMatzikama. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?