Juan Boucher spog met nuwe album

Die bekroonde sanger Juan Boucher spog met sy sesde album, Onthou jy om jonk.
Die album het 11 liedjies, meestal deur Boucher geskep. Soos altyd toon dié album groei en ontwikkeling. Hy het daarin geslaag om ’n eiesoortige skryfstyl te ontwikkel. Uit sy pen klink Afrikaans vars en cool.

“Ek het drie weke by die see en in die Bosveld rondgeloop om al my woorde te ontvang uit die stilte onder die wolke, by die bos en see. Alles wat ek wou skryf, het presies uitgekom soos heuning deur my pen en elke liewe woord wat in stories verander het, is presies wat ek wou vertel. Liedjies soos hierdie is liedjies wat jou in ’n ander rigting stuur. Dit laat jou glimlag en dalk help dit jou ook om iets wat jy vir iemand anders wil sê, te verwoord. Dié album verteenwoordig vryheid van die siel,” vertel hy.

Hy delf filosofies in drome, die liefde, die goeie en die kwade – die lewe: soos dit met hom en ander mense om hom gebeur. Die musiekregisseurs, Byron Keno, wat nou in Australië gevestig is, en Tertius Human, het die verwerkings saam met Boucher behartig. Onder die hoogtepunte op die album tel ’n verwerking van “Ons is mekaar sinne”, modern gepoets deur Danny Smoke en Johan Vorster.

“Om ’n gunsteling te kies, is ongelooflik moeilik, want elke liedjie op dié album is spesiaal. Ek skryf nooit ’n liedjie om ’n album te vul nie, elkeen het ’n doel en is ’n skakel in die voltooide ketting. Maar die titelsnit troon tog uit, die woorde het natuurlik gevloei. Ek moet erken, ek het lank gebid om dié song te kon skep. Vir my is musiek die gereedskap om ons Afrikaanse kultuur te beskryf.”

Dit hoor jy veral op die snitte “Mense van my asem”, “Wat beteken dit”, “Gebou om te hou”, “Net saam jou” en “Vol alkohol”. Tussen die ander werk is die snit “In wens” (deur Jan Blohm) en die duet “Huisie in die bos” (saam met Jan Rhaap). Boucher doen ’n eiesoortige weergawe van Bruce Springsteen se “Tougher than the rest” en hy laat Ballyhoo se destydse reuse-treffer “Man on the moon” opnuut blink.

Geniet ’n versameling van goeie musiek, met mooi melodieë, lirieke oor mense en polsende ritmes wat jou aanvuur om voluit te lewe.

Berig verskaf deur sterre.co.za/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?