Hartseer algemene verskynsel op Matzikama-paaie

’n Veiligheidsgordel, ’n bekwame motorbestuurder en ’n vertroude motor is nie meer genoeg om veilig op die pad te gaan nie. Ongeduld, waagmoed en eksterne faktore plaas lewens in gevaar en toon geen emosie as hul die reëls van die pad so maklik verbreek nie – tot dit te laat is.

Vanjaar moet sekerlik ’n hoë syfer in noodlottige motorongelukke vir Matzikama merk. Jong mense se lewens word korter geknip as gevolg van impulsiewe en ongerekende besluite wat geneem word op die pad. Die winter is dalk verby, maar die wete dat nog ’n persoon sy lewe moes afstaan aan die dood die afgelope naweek plaas ’n swaar gemoed op Matzikama inwoners.

Die voorsorgmaatreëls wat getref word, is tevergeefs as ander motoriste ook nie hul kant bring nie. Die pad is nie ’n renbaan nie, ook nie ’n speelplek vir adrenaliensoekers nie. Die paaie behoort aan families, mammas, pappas, kinders, vriende, geliefdes – almal wat veilig tuis wil aankom. Arrive Alive gee die volgende wenke aan motoriste om veiliger op die pad te wees:

Om jou reis te beplan, is baie belangrik. Hou altyd jou bestuurslisensie byderhand. Beplan jou  roete en maak seker dat jou petroltenk altyd genoeg petrol in het. Beplan ook jou reis so sodat jy genoeg tyd het om by jou bestemming te kom en nie nodig het om te jaag nie. Beplan ook waar jy gaan stop om te rus. Probeer dus om nie in die aand te ry nie.

Maak seker dat jou voertuig padwaardig is. Kyk of jou remme werk, jou bande nog in ’n goeie toestand is, rigtingaanwysers nog werk, ens. Neem jou motor vir ’n volledige besigtiging voor jy ‘n lang afstand aandurf. Moet ook nie jou motor oorlaai nie.

Maak seker jy is uitgerus voor jy agter die stuurwiel inklim. Neem elke twee ure of 200 km ’n blaaskans. Moet nooit drink en bestuur nie, want dit belemmer jou vermoë om te bestuur. Vergeet van jou selfoon wanneer jy bestuur. Sommige motoriste bêre hul selfone in die kattebak sodat dit nie aandag aftrek nie. Dra jou veiligheidsgordel en moedig ander aan om ook hulle s’n te dra. Dit mag dalk net ’n lewe red. Alle kinders moet ’n veiligheidsgordel dra. Dit is ’n kriminele oortreding indien die bestuurder toelaat dat ’n kind nie veilig vasgemaak is nie.

Wees te alle tye oplettend vir enigiets wat dalk ’n ongeluk kan veroorsaak. Vergeet ook van waagmoed en volg die reëls van die pad. Skakel jou ligte aan om gesien te word. Doen wat jy moet – doen soos wat jy geleer is die dag toe jy jou bestuurslisensie gekry het. Wees liewer versigtig as wat jy die res van jou lewe met spyt en verwyt moet geselskap hou.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?