Groot vis op Doringbaai sorg vir groter fassinering in Matzikama

Die verbeelding van Tim Burton, Amerikaanse skrywer en kunstenaar, sou nooit in ’n miljoen jaar die kreatuur wat Maandag, 8 Oktober, op Doringbaai uitgespoel het in detail vir sy 2003 fliek Big Fish kon vaslê nie. ’n Brindle bass oftewel Briekwabaars in Afrikaans is deur vissermanne dood in Doringbaai-seewater gevind tot opspraakwekkende reaksie vanuit die Matzikama-streek.

Die nuus van die groot vis het soos ’n tsunami oor sosiale media versprei, met elke gebruiker wat sy of haar eie stertjie byvoeg aan die storie. Daar word wel bespiegel dat die vis inderdaad ’n brindle bass is, maar dit is weggestuur na Kaapstad vir verdere ondersoek om die spesie te bevestig. Die brindle bass is hartseerlik ’n bedreigde spesie en is op die rooi lys van SASSI (South African Sustainable Seafood Initiative). Dit beteken dat dit onwettig is om die vis te vang. As jy wel jou net gaan span om hiérdie groot meneer te vang, kan jy ook gereed maak om R800 000 uit jou beursie te skud as boete.

Die brindle bass – Epinephelus lanceolatus in latyns – kan tot so lank as 2.7 meter groei. Hulle lewe tot omtrent 50 jaar en kan soveel as 400 kg weeg. Daar word ook in sekere gevalle rapporteer dat selfs groter visse in die Epinephelus-spesie gevind is. Die spesie bereik volle seksuele volwassenheid wanneer hulle 1.1 meter lank word en voed op skaaldiere, kleiner visse, baba-seeskilpadjies en selfs op sekere haai-soorte. Die vis kom oral voor in koraalriwwe in sub-tropiese en tropiese areas, behalwe in Amerika. Daar kan dus nie vasgestel word min-of-meer hoeveel van visse in hierdie spesie nog bestaan nie.

Daar is 99 van die Epinephelus-spesie in die wêreld, maar word nie in alle lande beskerm nie, veral in Asië. Híér glo hulle dat die vis geëet moet word vir sy helende kragte – spesifiek vir ’n siel wat verlore is en om pyn te genees. Ironies genoeg kan die mens ’n siekte, CDF (ciguatera fish poisoning) opdoen van enige soort koraalvis eet. Simptome sluit in hoofpyn, naarte, vertigo, en hallusinasie. Draers van die siekte kan ook ’n sensasie ervaar waar koue op die vel soos ’n vuur-warm brand deur die liggaam gevoel word. Nog ’n interessante feit is dat die brindle bass as ’n wyfie gebore word, maar later verander na ’n statige meneer – veral as die verandering in geslag nodig is vir voortplanting. Die spesie word dus op ’n jong ouderdom gevang in Asië en kan dus nie voortplant wanneer dit sy 1.1 meter lengte bereik nie.

Die bestaan van die brindle bass sal nog sorg vir vele stories en ongeloofbare mites. Dit is dus elkeen se verantwoordelikheid om die spesie of enige bedreigde spesie te beskerm, sodat toekomstige generasies  ook met ongeloofwaardige oë die natuur kan bewonder.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?