Groot opwinding oor Expedition Africa

Expedition Africa is tot dusver ’n groot sukses! Die Namaqua Weskus is een van die mees unieke reis bestemmings van die Wes-Kaap. Juis om hierdie rede is dit so ’n perfekte area vir vir die strawwe Expedition Africa 2018 om plaas te vind.

Avontuurlustige deelnemers van Expedition Africa 2018 het van heinde en verre gekom om aan hierdie resies deel te neem. Op Donderdag 17 Mei het die spanne by die Kaapstadse Internasionale lughawe geland waar hulle per bus na Letsatsi Lodge buite Vanrhynsdorp vervoer is. Die spanne se entoesiasme en geesdriftigheid was fantasties om te aanskou. Nadat die spanne by Letsatsi Lodge arriveer het kon hulle rus by die pragtige lodge voordat hulle die volgende oggend kon registreer vir die resies.

Op Vrydag 18 Mei het die spanne in lang rye gestaan vir registrasie om 09:00. Die vriendelikheid en opgewondenheid was tasbaar soos al die spanne trots gestaan het vir hul spanfoto’s. Sommige spanne was reeds so opgewonde om die area te verken dat hulle gretig rond gestap het deur Letsatsi Lodge en die natuurskoon bewonder het. Die organiseerders het dit goedgedink om die streek se media-organisasies te betrek gedurende die middag.

Die opwinding het deur die loop van die dag opgebou en om 17:00 Vrydagmiddag was daar ’n trotse vlagparade in die strate van Vanrhynsdorp gehou. Al 52 spanne het met hul landsvlae van die museum tot by Letsatsi Lodge gestap. Plaaslike rieldansgroepe het ook by die vlagparade opgetree en van die spanne het saam met die rieldansers geriel.

Ná die vlagparade het die spanne van Expedition Africa heerlik rondom ’n trots Suid-Afrikaanse braai gekuier en met van ons streek se beste wyne rondom die swembad ontspan.

Op Saterdag, 19 Mei het die spanne Maskam Mall op Vredendal besoek en die gees het hoog geloop. Die spanne het Thi Art Coffee besoek waar hulle ’n heerlike ontbyt geniet het. Hulle het ook ander winkels besoek waar hulle die laaste paar inkopies gedoen het voor die groot avontuur begin het.  Die res van die middag het die spanne ontspan by Letsatsi Lodge en die beplanning vir die week se resies gedoen. Sommige spanne het selfs hul toerusting getoets en op Letsatsi se dam geroei! Van die spanne het ook ’n draai by Namaqua Lodge op Vanrhynsdorp gemaak waar hulle ’n lekker trots Suid-Afrikaanse aandete geniet het.

Op Sondag, 20 Mei was dit tyd vir die groot avontuur wat op die spanne gewag het. Die deelnemende spanne het reeds vroegoggend vertrek en om 09:00 by die visserdorpie, Doringbaai se hawe weggespring. Heelwat plaaslike inwoners het nie toegelaat dat die reën en wind hulle afskrik nie en het hul ondersteuning vir die spanne kom wys. Dit was wel ’n koue oggend, maar die Expedition Africa spanne het gewys dat koue nie in hul pad sal staan tydens die groot oomblik nie.

Hou gerus ons sosiale media dop vir meer inligting en nuus oor Expedition Africa 2018. Ons sal jou op hoogte hou van hoe jy betrokke kan raak, waar die spanne op die roete gaan wees, asook wanneer die wenners by die eindpunt gaan aankom!

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

© 2019 MyMatzikama. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?