Goeie nuus vir Suidooster-kykers

Kykers van die gewilde kykNET-sepie, Suidooster, kan van volgende jaar uitsien na nóg meer drama wanneer dié sepie vyf dae ’n week op die kassie is.

Die bykomende episode word vir die eerste keer op 6 April 2018 uitgesaai. Karen Meiring, direkteur van kykNET-kanale by M-Net, sê die besluit is gemaak op aandrang van kykers.

“Suidooster-kykers is baie entoesiasties en vra al vandat die sepie begin het vir vyf dae ’n week,” sê Meiring. “Dit is regtig lekker vir kykNET om dié nuus so net voor Kersfees te deel.”

Die aktrise Denise Newman, wat die rol van Bridgette October vertolk, sê almal sien lank reeds uit na ’n vyfde episode van die sepie. “Hoewel ons meer woorde gaan moet leer, doen ons dit met ’n glimlag. Suidooster-kykers verdien ’n Vrydag-episode,” sê sy.

Die eerste episode van dié sepie is op 16 November 2015 uitgesaai en het met drie episodes per week begin.

Suidooster is Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET en kykNET & kie te sien.

Berig verskaf deur sterre.co.za/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?