Getroude paartjie vertolk broer en suster in nuwe fliek

Thys & Trix, ’n skaterlag aksiekomedie met Leandie du Randt Bosch en Bouwer Bosch in die hoofrolle, is tans besig om verfilm te word.

Dié fliek vertel die verhaal van ’n broer en suster, Thys en Trix, wat ywerige maar onbeholpe polisiemanne is. Thys is ’n bedagsame knoeier en Trix ’n ongeskikte, sexy rabbedoe. Hulle onderlangse twis en die feit dat hulle van kleins af sukkel om saam as ’n span te werk, veroorsaak dat hulle geskors word nadat hulle die polisiediens een keer té veel in die verleentheid stel.

Speurder Solomons, ’n gesoute en passievolle speurder, ondersoek die bedrywighede van ’n misdaad-sindikaat in ’n hoogs onwaarskynlike plek: ’n eksklusiewe gholflandgoed buite Mosselbaai.

Daar is egter een probleem, Solomons gaan sukkel om in te pas op die landgoed en vanweë hulle ‘vanilla-voorkoms’ word Thys en Trix vir die eerste keer uitgesonder as die bekwaamste span om ’n ondersoek te lei, of eerder te laat ly. Solomons sal hulle vergesel, maar is glad nie ingenome met die feit dat hy die butler gaan wees nie.

Trix besef dit is haar laaste kans om haarself as ’n bekwame polisiebeampte te bewys. Thys weet dit is sy laaste kans om die moeilike verhouding met sy suster te red, maar die feit dat hulle moet voorgee om ’n getroude paartjie te wees om die ondersoek geloofwaardig te maak, bemoeilik die situasie, dikwels met onverwagse, verreikende en skreeusnaakse gevolge.

Kragpaar Chandré en haar katelknapie André, gay-kunshandelaars Stephán en Gérhard, hippie-swingers Ben en June en die lieflike jong weduwee Heidi, is Thys, Trix en Solomons se nuwe bure.

Hierdie groepie kleurvolle karakters van Pelican Close in Pinnacle Point is glad nie wat ’n mens sal verwag van luukse landgoed-bewoners nie, maar is enige van hulle moontlik betrokke by die vervaardiging en verspreiding van MTHC (’n kombinasie van Mandrax en Tetrahydrocannabinol), ’n verlammende hallusineringsmiddel?

Die film word deur The Film Factory onder leiding van Danie Bester vervaardig en die regie word behartig word deur die bekroonde regisseur Quentin Krog van Vir die Voëls- en Ballade vir ’n Enkeling-faam.

Thys & Trix word landwyd op 13 April 2018 deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik.

Berig verskaf deur sterre.co.za/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?