Freshpak Fitness Festival sorg vir hope sport en opwinding

Sport- en fiksheidsliefhebbers het hulself op Saterdag, 29 September gereed gemaak vir die Freshpak Fiksheidsfees wat vir die 32ste keer op Clanwilliam aangebied is. Die fees is een van die land se grootste multisportgeleenthede.

Die natuurskoon, uitdagende roetes, kameraadskap en die gevoel van prestasie is van die vele redes waarom atlete, familie, vriende en toeriste jaar vir jaar op Rooiboswêreld toesak om deel te neem en die feestelike atmosfeer te geniet.

Ongeveer 1 350 atlete het vanjaar deelgeneem aan verskeie swem-, fietsry- en hardloopuitdagings.

Die dag se verrigtinge het afgeskop met ʼn 1.5 km of 3 km swem in die Clanwilliamdam, een van die beste watersport-bestemmings in die Wes-Kaap. Die swemnommers is gevolg deur die dubbelkamp (5 km hardloop/20 km fietsry/2.5 km hardloop) asook ’n tweekamp (5 km hardloop/20 km fietsry) waar deelnemers se snelheid en uithouvermoë getoets is.

Die hoofgeleentheid van die dag was die driekamp wat die driekampseisoen vir die meeste atlete afgeskop het. Die 800 m swem/20 km fietsry/5 km hardloop is menige deelnemer en toeskouer se gunsteling. Die atlete kan individueel of as deel van ’n aflosspan deelneem. Die kleinspan is ook nie afgeskeep nie – daar was ʼn FitKids-uitdaging (1 km hardloop/200 m swem/1 km hardloop) en die een kilometer “Run for Fun”.

Die welbekende Danilo Acquisto, TV-aanbieder op Afternoon Express en ’n radioaanbieder op Good Hope FM, asook die beeldskone Zoë Brown, TV-aanbieder op Expresso Morning, het ook vanjaar vir die eerste deelgeneem aan die driekamp.

Atlete en toeskouers was ryklik beloon met ʼn opwindende dag in die natuur en ʼn asemrowende uitsig oor die Clanwilliamdam en die ruwe Cederberg-landskap.

ʼn Persentasie van die opbrengs van die inskrywingsfooie word geskenk aan Kansa se Weskusstreek-tak. Rooibos, wat slegs in die Cederberge groei, het antioksidant-eienskappe wat kanker doeltreffend beveg en deel vorm van ’n gesonde leefstyl.

Die multisportgeleentheid het beslis gesorg vir hope opwinding.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?