Eerste amptelike Gesig van Rooibos aangekondig

Die eerste Nasionale Rooibosdag is op 16 Januarie op Clanwilliam gehou, en wat ’n reuse-sukses was dit nie! Die dag was van begin tot einde met opwinding gevul. Onder die hoogtepunte was ’n wêreldrekord wat opgestel is, asook die eerste jaarlikse aankondiging van die Gesig van Rooibos.

 

Daar is met trots bekend gemaak dat Die Nuwe Graskoue Trappers, ’n rieldansgroep van Wupperthal, nou met die titel spog. Die Gesig van Rooibos vir 2017 word deur Rooibos Beperk moontlik gemaak.

 

“Ons het op Die Nuwe Graskoue Trappers as Gesig van Rooibos besluit, omdat hulle net so eie aan die streek is soos Rooibos”, sê Sanet Stander en Marietjie Smit, organiseerders van Nasionale Rooibosdag.

 

Die riel is ’n seremoniële dans wat tradisioneel deur die plaaslike inwonders rondom die vuur beoefen is. Afstammelinge van dié inheemse stamme dans tot vandag toe die riel en die tradisie is nog lank nie uitgesterf nie.

 

Die Nuwe Graskoue Trappers het ontstaan toe hulle in 2012 deur die sjef van Bushmans Kloof, Floris Smith, ontdek is. Smith, self ’n voormalige danser, het op ’n groep kinders afgekom wat die energieke riel gedans het. Hy was onmiddellik meegevoer en het aangebied om hulle te choreografeer. Onder Smith se leiding het die groep verskeie trofees huis toe gebring, insluitend ’n goue medalje by die Wêreldkampioenskap vir Uitvoerende Kunste in 2015.

 

“Ek het van die begin af geglo ons het iets uniek om met die wêreld te deel”, sê Floris Smith, stigter, choreograaf en bestuurder van Die Nuwe Graskoue Trappers.

 

Die groep is van Wupperthal, ‘n Morawiese sendingstasie in die hart van die Cederberge waar Rooibos verbou word.

 

Gaste by Rooibosdag was in vervoering oor die energieke danspassies van Die Nuwe Graskoue Trappers. Die stof het omtrent gedraai soos hulle op die maat van die musiek hul aansteeklike dans uitgevoer het.

 

“Ons vertrou dat Die Nuwe Graskoue Trappers as ambassadeurs van Rooibos hierdie unieke produk op ver rielpaaie sal neem”, sê Sanet Stander.

Hierdie 2 inheemse skatte was op Nasionale Rooibosdag gevier. Die gebeurtenis het ’n atmosfeer van trots vir beide Suid-Afrika se kultuur en natuur ingehou. Soos die gemeenskap saamgestaan het om hul liefde vir rooibostee by Nasionale Rooibosdag uit te leef, was dit duidelik dat min dinge mense so goed bymekaar bring soos ‘n gemeenskaplike liefde vir iets.

 

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?