Drama op ons drumpel

Indien jy nog altyd gedroom het daaroor om ’n bekende akteur te word, op soek is na ’n nuwe stokperdjie of hunker na ’n bietjie meer drama in jou lewe, kan jy by Kayla Pienaar se drama-skool op Vredendal aansluit. Kayla is ook ’n uitstekende voorbeeld van ’n vrou wat besluit het om haar eie geleenthede in die lewe te skep om te verseker dat sy ’n suksesvolle loopbaan het. Sy is ook ten volle bewus van die impak wat ondersteuning deur geliefdes op jou sukses het.

Kayla, ’n lewenslustige 24-jarige van die Paarl, het haarself in 2015 op Vanrhynsdorp gevestig  en het haar BA Graad in 2014 in Professional Acting for Camera by City Varsity in Kaapstad verwerf. Sy bied sedert 2016 dramaklasse op Vredendal aan.

“Vandat ek klaar studeer het, het ek vir oudisies gegaan en nooit ‘reggekom’ nie en dis toe dat ek besluit het om my eie ding van scratch af te begin,” vertel Pienaar en voeg by: “My doelwit is om mense te help wat nog altyd ’n akteur wou word en om toneelspeelwerk vir myself en vir ander wat net so sukkel om ’n sukses te maak, te skep.”

Volgens Kayla is mense van mening dat om ’n agent te hê van jou ’n sukses gaan maak, maar volgens haar is dit nonsens.

“Ek was vir drie jaar deel van ’n agentskap en daar was net oudisies en dis dit. Vandat ek my eie ding doen, self soek vir oudisies en my eie werksgeleenthede skep, het ek binne ses maande meer bereik as ooit,” vertel Kayla trots.

“Ek het ’n passie om mense af te rig en ek love dit ook om met mense te werk,” vertel sy.

Terwyl Kayla meer vertel oor die verskeie aspekte van drama, van die opwarmingsoefeninge, tot die voorbereiding van tekste, tot die struikelblokke van ’n karakters aanneem, loop sy oor van opgewondenheid. Dit is duidelik dat ’n passie vir drama deur haar are bruis.

“Ek het alles probeer wat moontlik vir my kan werk en drama-onderrig was een van dit. Ek het al ’n hele paar keer by Vredendal Hoërskool uitgehelp om hul drama-leerders af te rig,” vertel Kayla.

“Dit is net so ’n opwindende beroep, jy kan wees wie jy wil, wanneer jy wil. Alles wat ek van drama geleer het, gebruik elke mens in hul daaglikse lewe: asemhaling, drama, mense analiseer, persoonlikheidseienskappe, kommunikasie met jouself en met ander, emosionele uitbarstings, oplettend teenoor alles rondom jou, interaksie met mense en die lys gaan aan.”

Voordat sy na Vanrhynsdorp getrek het, het sy by Paarl Mall Vetshop gewerk – tydens haar skoolloopbaan en terwyl sy studeer het. Sy het ook in Kaapstad op advertensie- en filmstelle gewerk, maar dit was egter eers toe sy na die Matzikama-streek verhuis het, dat haar dramaloopbaan in volle glorie begin het.

Kayla het haarself die afgelope twee jaar tuis gemaak in die Matzikama-streek en is verloof aan Juan Matthysen, ’n hidroliese tegnikus op Vanrhynsdorp. Hulle het twee katte en ’n meerkat.

“Juan is die wonderlikste verloofde ooit. Hy ondersteun my ten volle in my dramaloopbaan. As ek moet opstel of voorberei vir ’n oudisie sal hy inlees as die ander karakter. Hy neem my ook tot by die stel waar ek moet wees, sodat ek nie hoef te stres oor verkeer nie en dat ek my opwarmingsoefeninge deeglik kan doen,” vertel Kayla en voeg by dat Juan ook die aand voor die tyd vir haar Milo aangedra sodat sy vroeg kan gaan slaap om genoeg rus in te kry.

“Ek kan nie vir beter vra nie,” spog Kayla met ’n glinster in haar oog.

Sy is by volgende jaar se KKNK Kunstefees en by Woordfees 2018 in Stellenbosch in ’n eenvrouvertoning genaamd My Name is Jane te sien asook in ’n kortfilm The Abandoned Boys deur Renier Palland wat by ongeveer 56 filmfeeste oor die wêreld ingeskryf is.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?