Besoek dié Kersmarkte in Matzikama in die feestyd

Die feesseisoen is hier en vanjaar word verskeie Kersmarkte in die streek aangebied. Nie net bied Kersmarkte vir jou heelwat lekker geskenkopsies nie, jy kry ook die geleentheid om jou gemeenskap te ondersteun!

Olifantsriviervereniging vir persone met gestremdhede (OVPG) Kersmark

Donderdag, 30 November sal die Olifantsriviervereniging vir persone met gestremdhede (OVPG), tesame met internasionale dag vir persone met gestremdhede hul Kersmark hou.

Die verrigtinge begin om 17:00 by die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) se saal op Vredendal. Om 19:00 sal daar ’n Kerskonsert aangebied word. Daar is geen toegangsfooi vir die konsert nie, maar organiseerders nooi almal om ’n klein skenking by die deur af te gee.

Gasspreker, Mariana van Lille, sal besoekers toespreek en daar sal ook verversings te koop wees.

Olifantsrivier Kersfees Plaasmark

Van 29 November tot 2 Desember sal die Olifantsrivier Kersfees Plaasmark in die Vredendal Sportsaal plaasvind. Daar sal onder meer geskenke, boeke en skildery te koop wees.

Tye vir die Kersmark is as volg:
29 November: 15:00 – 19:00
30 November: 10:00 – 19:00
1 Desember: 10:00 – 19:00
2 Desember: 9:00 – 14:00

Strandfontein Kersmark

Strandfontein Kersmark sal in die munisipale saal plaasvind op die naweek van 15 Desember tot 19 Desember. Hierdie geleentheid word deur die NG gemeente te Lutzville aangebied.

Daar sal ’n koffiewinkel met ligte etes daagliks aangebied word asook lekkernye, dekor, juwele en ingelegde produkte te koop wees. Kaartgeriewe is ook beskikbaar.

Die tye vir die Strandfontein Kersmark is as volg:
15 Desember: 10:00 – 20:00
16 Desember: 8:00 – 15:00
18 Desember: 10:00 – 19:00
19 Desember: 10:00 – 17:00

VGK Vredendal-Noord Kermis
Die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) op Vredendal-Noord bied op Saterdag, 2 Desember hul jaarlikse kermis aan om die feesseisoen reg te begin. Die verrigtinge gaan plaasvind by die VGK terrein en sal van 09:00 tot 18:00 wees.
Volgens Hilton Skippers, organiseerder van die kermis, kan die gemeenskap uitsien na die heerlikste geregte wat verkoop gaan word soos braaivleis, roosterkoeke, koeke, nagereg en nog vele meer liplekker geregte om van te kies.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?