16 dae van aktivisme verrigtinge in Matzikama

16 dae van aktivisme teen geslagsgegronde geweld is ’n internasionale veldtog om geweld teen vroue en kinders hok te slaan en om bewusmaking te verhoog. Die veldtog begin elke jaar op 25 November. Dit is in 1991 begin deur die eerste Women’s Global Leadership Institute.

Die gemeenskap van Vanrhynsdorp, in samewerking met die plaaslik SAPD en die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) op Vanrhynsdorp, het reeds hul 16-dae van aktivisme afgeskop met ’n raakrugby-toernooi vir die SAPD en die gemeenskap van Vanrhynsdorp.

Volgens sersant Derick Cloete van die Vanrhynsdorp SAPD het hierdie toernooi begin November afgeskop en sal daar op Vrydag, 15 Desember met die eindstryd afgesluit word.

“Daar word elke Dinsdag- en Donderdagaand om 19:00 gespeel en ses spanne neem elke keer deel aan die toernooi. Verrigtinge vind plaas by die Jan Opperman sportterrein op Vredendal. Ek gaan ook klein programme hê soos om huise op Vanrhynsdorp te besoek waar daar slagoffers is van gesinsgeweld en ons gaan ook pamflette uitdeel en praatjies met die slagoffers hou oor huishoudelike geweld en dit versprei na plase in die Matzikama-streek,” sê Cloete.

Cloete voeg ook by dat die SAPD in samewerking met die GPF die rugbytoernooi hou en dat hulle beplan om dit in 2018 moontlik te maak vir ander plekke in die Matzikama-streek om ook deel te neem.

Vir meer inligting oor die verrigtinge van die 16 dae van aktivisme, kontak Aubrey Witbooi, GPF bestuurder, by 082 775 3718.

Matzikama-munisipaliteit bied op Donderdag, 23 November, ’n bewusmakingsveldtog aan vir vroue en kinders as deel van hul 16 dae van aktivisme veldtog en om vroue en kinders te herinner dat hulle nie die tipe gedrag teenoor hulle hoef te duld of aanvaar nie.
Op 23 November sal die verrigtinge as volg verloop: Daar sal ’n optog en bewusmakingstap deur Mangaung op Vredendal-Noord saam met ander rolspelers wees. Volgens Elizna Mouton van Matzikama-munisipaliteit sal alle regeringsdepartemente, besighede en ander rolspelers asook die publiek en vrywillige munisipale amptenare daaraan deelneem.
Program:
08:00 – 08:30 – Samekoms vir optog by Vredendal-Suid se sportsaal.
Roete is as volg:
Draai regs by sportklub se hek (klubstraat) tot by stopstraat, draai links in Hospitaalstraat en ry reguit tot by die stop by Kerkstraat, draai links en hou reguit aan tot by verkeerslig. Draai regs op en hou reguit deur Voortrekkerstraat na Vredendal-Noord. Draai links op in Bultweg en weer links in Hoogstraat, hou reguit aan tot by taxi-staanplekke oorkant Mangaung.
09:00 – Samekoms van gemeenskap vir die bewusmakingsoptog deur Mangaung (strate het nie name nie) en uitdeel van pamflette ter bewusmaking
10:30 – Vertrek terug na onderskeie plekke.
“Sirenes en toeters sal die bewusmaking aankondig. Die Matzikama-munisipaliteit se raadslede sal heel voor ry met motorfietse en so veel moontlik voertuie sal volg,” sê Mouton.
Vir meer inligting, kontak Elizna Mouton (skakelbeampte by Matzikama-munisipaliteit) by 027 201 3354 of 082 871 5897.
Tans neem meer as 3700 organisasies uit ongeveer 164 lande deel aan die veldtog en indien jy iets beplan vir die 16-dae van aktivisme, deel jou storie met ons deur vir ons ’n Facebook-boodskap te stuur of ’n e-pos na mymatzikama@lumico.co.za. Jou bydrae kan ’n groot verskil maak.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?