November is Wêreld Vegan-maand

Elke jaar word November gewei aan Wêreld Vegan-maand, met die doel om mense in te lig oor wat dit beteken om vegan te wees asook hoe jy dit kan vier en betrokke raak.
Volgens The Vegan Society, ’n vereninging in die Verenigde Koningkryk, is veganisme nie bloot net ’n dieet nie, maar eerder ’n manier van lewe.

“Die woord veganisme dui op ’n filosofie en ’n lewenswyse wat poog om sover moontlik, en so prakties as moontlik, alle vorme van uitbuiting van en wreedheid teenoor diere vir kos, klere en ander doeleindes te vermy asook om die ontwikkeling en gebruik van diere-vriendelike alternatiewe vir die voordeel van die mens, diere en die omgewing te bevorder.”

Dieetgewys mag veganiste nie produkte eet wat gedeeltelik of geheel en al van diere af kom nie, en dit sluit diere-byprodukte in.

Veganisme is egter nog heel nuut in Suid-Afrika, maar soos mense meer bewus word van wat presies hulle eet en drink, wat gebruik word in die produksie van sekere kosse en ook hoe diere behandel word, word die tendens en lewensstyl al hoe gewilder.

In Januarie 2017 het Suid-Afrika sy eerste en enigste vegan-tydskrif, genaamd The Vegan Life gekry.

“Die massiewe skuif na veganisme is baie interessant,” sê Marianne Erasmus, uitgewer van The Vegan Life. “Dit weerspieël ’n groeiende bewustheid van ons impak op die wêreld, want veganisme is nie net gegrond op wat goed is vir die individu nie, maar wat die beste is vir die planeet. Ons steun die besluit om eties te leef en die aktivisme daaragter, en ons is trots daarop om die eerste vegan-tydskrif in Suid-Afrika bekend te stel.”

Tot heelwat mense se skok het dit ook ’n geruime tyd terug aan die lig gekom dat wyn ook nie geskik is vir veganiste nie, omdat meeste konvensionele wyne deur diere-byprodukte soos eierwit gefiltreer word. Die beweging om wyn te maak wat geskik is vir veganiste, word by die dag groter en een van die Matzikama-streek se wynprodusente, Stellar Winery, is een van die voorlopers in die beweging. Al Stellar Winery se wyn is gesertifiseer as organies, gluten vry en geskik vir veganiste.

Daar is heelwat maniere hoe jy betrokke kan raak by die herdenking en bewusmaking van veganisme, al wil jy nie self oorskuif na die leefstyl toe nie. Jy kan begin deur net Vleisvrye Maandae te ondersteun, en jouself meer ingelig te maak oor wat veganisme en die leefstyl behels.

Vir meer inligting oor veganisme besoek The South African Vegan Society se webblad by http://vegansociety.org.za/ of gaan loer selfs na die oorspronklike vereniging se webtuiste vir lekker resepte en meer feite en nuus: https://www.vegansociety.com/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?