Noenmaalrolletjies

Kroek lekker met hierdie rolletjies. Die vonkelwyn in die resep laat dit soos tipiese suurdeeggebak proe. Dis eintlik ’n variasie op die tema van die Sprite-skons wat jare gelede al ’n staatmaker in elke voorstedelike huisvrou se reseptelegger geword het.

Die resep is van buurvrou na buurvrou oor die heining gedeel en ná elke teepartytjie is pen en papier nader getrek om die handige ou reseppie neer te skryf. Hierdie variasie met die vonkel is heerlik lig en ’n ideale pasmaat saam met ’n fynproewersmaal.

Bak ’n klompie en sit dit in ’n mooi mandjie op jou gedekte tafel. Dis heerlik met botter. Luister maar hoe jou tafelgenote oe en aa.

Bestanddele:
3½ koppies bruismeel
340 ml soet pienk vonkelwyn
’n knippie sout
250 ml room

Metode:
Plaas al die bestanddele saam in ’n groot mengbak en meng goed.
Verdeel die deeg tussen die gaatjies van ’n gesmeerde standaard 12-gat muffinpannetjie en bak in ’n voorverhitte oond van 180⁰C vir 20 – 25 minute.
Bedien met regte botter saam met jou “noenmaal” en sê dankie vir jou gesellige tafel sonder trousseau, voorskriftelike tannies en stywe onthale.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?