Natasha Klue skryf haar lewe

Om ten spyte van jou omstandighede steeds jou storie te vertel, of iets van jou lewe te maak en jou lewe meer betekenis te gee, is nie iets wat almal kan regkry nie.

Natasha Klue – dogter van Fransien Klue en afkomstig van Koekenaap – is een so ’n geval. Hulle woon tans in die Noord-Kaap, maar Natasha se lewe is nie maanskyn en rose nie. Sy sukkel met ’n nierprobleem (een van haar niere is dood), ’n ooraktiewe skildklier en het ook drukking op die kop en ’n vinnige hartklop. Maar ten spyte van al die siektes waarmee Natasha sukkel, het sy een talent waarin sy baie goed is. Sy kan skryf.

Natasha strewe daarna om haarself as suksesvolle skrywer te bewys ongeag wat haar omstandighede en siektes is. Volgens Fransien is sy en haar dogter opsoek na ’n barmhartige Samaritaan wat hulle sal kan help met ’n skenking sodat hulle die drukkerskoste van Natasha se boekies kan betaal.

“Ek het ’n dogter wat skryf en is nou op moedverloor se vlak. Het al orals aangeklop en hoop ons ontvang hulp van iemand. Ons het iemand wat haar boekies druk, maar ons moet self bemark en drukkerskoste betaal. Ons druk eers net dertig boekies en dit kos R2000 – ons soek hulp en dat my dogter se drome bewaarheid sal word,” sê Fransien.

Natasha wat in 2016 matrikuleer het, het reeds haar eerste boek geskryf en haar tweede boek se bekendstelling vind plaas op Saterdag, 28 Oktober in die biblioteeksaal op Durbanville. Sy is geregistreer as ’n skrywer by die staatsbiblioteek in Pretoria.

“My eerste boek gaan oor hoe om jou drome waar te maak en dat dit nie saak maak waar jy vandaan kom nie, want jy kry altyd jou gelukkige einde. Om op te staan vir jouself en jou drome na te streef in moeilike omstandighede. My boek is ’n moderne Aspoestertjie-weergawe,” voeg Natasha by.

Mar-Leo is Natasha se uitgewer en volgens haar is dit deur die ondersteuning van haar ma dat sy al so ver gekom het. “Ek is dankbaar die Here het haar as ’n ma vir my geskenk. Ek het nog baie drome en ek gaan dit nog almal nastreef en my boeke gaan my baie help,” sê Natasha.

“Ek het vanjaar tydens my oorbruggingsjaar aan my tweede boek begin skryf – dit is dié keer dikker. Ek het ook besluit dat ek my skryfwerk elke keer in die middel van die jaar gaan doen. My tweede boek gaan oor mense wat nie is wat hulle voorgee nie, dat liefde onverwags is en dat die Here almal ’n maat gegee het. En dat die Here ’n plan met almal se lewe het,” verduidelik Natasha.

Volgens haar het sy haar talent op skool ontdek en dit was veral haar Afrikaanse en Engelse onderwysers wat haar gehelp het. Sy kry haar idees oral soos sy musiek luister, flieks kyk, kuns doen, geskiedenisboeke lees en uit die daaglikse lewe.

“Die idees begin in my kop en ek droom dag en nag. Ek begin die gedagtes dan neerskryf in my swartboekies en dan begin ek skryf. Eers werk ek alle idees saam en vorm stories soos my eerste boek. Dit was eers ’n gesukkel, maar toe kom dit reg. Daar is lewenslesse in elkeen van my boeke,” sê Natasha.

Indien jy dalk ’n skenking wil maak of jy weet van iemand wat ’n bydrae kan maak sodat Natasha se droom ’n realiteit kan word, kontak Natasha en Fransien Klue by 073 711 2498. Jou skenking kan een mens se lewe verander.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?