Toyota steeds voor met totale voertuigverkope

Volgens die nasionale vereniging van voertuigvervaardigers (Naamsa) hou Suid-Afrikaanse motoriste nog vas aan hul ouer wiele aangesien minder nuwe voertuie in Februarie verkoop is as ’n jaar gelede.
Maar wanneer hulle wel koop, bly die Volkswagen Polo Vivo die gewildste passasiersmotor in die land. Verkope van hierdie motor is byna dubbeld dié van sy mededinger in ’n ander stal, die Toyota Corolla/Auris/Quest.
Maar Toyota kraai steeds koning wat totale voertuigverkope in die land betref danksy stewige verkope van handelsvoertuie soos minibustaxi’s.
Altesame 48 113 voertuie in alle klasse, ook bakkies en vragmotors, is in dié maand verkoop, het Naamsa Dinsdag bekend gemaak. Dit is 31 oftewel 0,06% minder as ’n jaar gelede.
Gewildste voertuie
Hier is die tien gewildste passasiersvoertuie in die land:
VW Polo Vivo (3 017)
VW Polo (2 462)
Toyota Corolla/Auris/Quest (1 717)
Toyota Etios (1 233)
Toyota Fortuner (1 092)
Ford Fiesta (1 054)
Renault Sandero (681)
Ford Focus (649)
Ford EcoSport (644)
Toyota RAV4 (612)
Hier is die tien gewildste voertuie in die kategorie ligte handelsvoertuie, bakkies en minibusse:
Toyota Hilux (3 086)
Ford Ranger (2 913)
Toyota Quantum (1 451)
Nissan NP300 Hardbody (1 447)
Nissan NP200 (1 327)
Isuzu KB (1 058)
Chevrolet Utility (833)
Toyota Land Cruiser (245)
VW Caddy (228)
Nissan NV350 Taxi (208)
Volgens Naamsa is daar wel meer ligte handelsvoertuie verkoop, maar die verkope van passasiersmotors daal steeds. Altesame 31 400 passasiersmotors is verkoop – 1 454 motors oftewel 4,4% minder as in Februarie 2016.
Meer as 19% van alle nuwe passasiersmotors is deur verhuringsfirmas aangeskaf.
Altesame 14 416 ligte handelsvoertuie, bakkies en minibusse is verkoop, wat 1 277 of 9,7% meer is as ’n jaar gelede.
In die kategorie vir medium-swaar vragmotors is 55 oftewel 8,5% meer vir ’n totaal van 705 verkoop. Altesame 91 of 6,1% meer swaar vragmotors is vir ’n totaal van 1 592 verkoop.
Rudolf Mahoney, hoof van handelsnaam en kommunikasie by WesBank, sê hulle het in Februarie 8,4% minder nuwe voertuie gefinansier, en daar was ook ’n daling van 5,3% in die aantal gebruikte motors waarvoor finansieringsaansoeke ontvang is.
Verbruikers het 8,8% méér vir ’n nuwe voertuig opgedok en gemiddeld 9% meer vir alle voertuie wat WesBank gefinansier het.
Uitvoermark
Met die uitvoermark gaan dit ook maar so-so. Slegs 65 oftewel 0,2% meer voertuie is in Februarie verkoop vergeleke met ’n jaar gelede. Dis ’n totaal van 29 388 voertuie.
Naamsa verwag dat dié uitvoer oor die volgende jaar of wat sal begin styg soos wat die wêreldekonomie begin kop optel.
Die vereniging is ook optimisties daaroor dat die plaaslike ekonomie sy draaipunt bereik het. Die sterker rand kan meebring dat ingevoerde motors se pryse nie so skerp styg nie wat tot beter verkope kan bydra.
Vir die volle 2017 verwag Naamsa verkoopsgroei van 3,5%.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?