Etios kry opwindende verbeterings

Die gerespekteerde Etios-reeks het hom as staatmaker in die Suid-Afrikaanse mark vir klein passasiersmotors sowel as in Toyota se produkreeks gevestig. Die Etios, wat as luikrug en sedan beskikbaar is, val in die smaak van kopers wat bekostigbaarheid, praktiese bruikbaarheid en betroubaarheid verkies.

Dié model, wat gereeld op die Top10-verkopelys is, se wye aantrekking is te bespeur in die feit dat altesaam 12 768 eenhede in 2016 nuwe tuistes gevind het.

“Die Etios is een van Toyota se kernmodelle, en het byval onder ’n wye verskeidenheid klante gevind. Die slagspreuk, “Hier om jou te laat glimlag” verteenwoordig dit waarvoor die Etios staan: eenvoudige, lonende motor. En met die jongste stilering, toerusting en veiligheidsverbeterings duur dit steeds voort,” sê Glenn Crompton, Toyota se adjunk-president vir bemarking.

Sprint-persoonlikheid

Die Sprint-model, wat verlede jaar in Oktober by die Festival of Motoring onthul is, is die jongste toevoeging tot die Etios-reeks. Maar waaroor gaan die Sprint nou eintlik? sal jy dalk wonder. Die Sprint-model vervang die gewese ‘Xs’ in die middel van die reeks en pronk met ’n aantal unieke eienskappe.

Die grootste verandering is ’n nuwe ontwerp vir die voorste buffer wat nou ’n groter onderste luginlaat as sy grootste fokuspunt het. Die onderste luginlaat strek die wydte van die hele voorkant en huisves ingeboude misligte met gevormde omhulsels. Beskeie greinafwerking is bygevoeg om dit ’n groter gehaltegevoel te gee.

Die onderste sierrooster is in passende swart afgewerk en behels skerp, horisontale latte om die gespierde tema te versterk. Die boonste deel van die verkoelerrooster gebruik ’n kenmerkende vlerkagtige motief met die ovaal Toyota-kenteken in die middel en ’n breë chroom-‘wenkbrou’ aan die bokant.

Die agterkant het ook ’n aantal stileringsopkikkerings ondergaan om ’n samehangende ontwerp te vorm. Die agterste buffer het ’n elegante vou aan die onderkant wat die kantaansig beklemtoon – dit vloei van die verste hoeke tot in die nommerplaathulsel. Dié hersiene ontwerp verleng die motor effens ­- 109 mm langer vir die luikrug en 104 mm vir die sedan.

Bykomende visuele aantrekking word deur die nuwe tweelingspeek-15”-allooisierwiele met 185/60R15-rubber en ’n koolstofveselagtige Sprint-kenteken bevorder.

Drie fases, enkele dns

Die Etios-reeks pronk nou danksy die toevoeging van die Sprint-model met drie verskillende modelle wat elk sy eie visuele identiteit het.

Die intreevlak-Xi behou sy bestaande stilering, maar kry ’n kleurgepaste sierrooster met chroombehandeling en fokus steeds sterk op goeie waarde. Soos reeds genoem is die Sprint-model in die middel van die reeks en bied dié nuweling groter gemak en beter geriefstoerusting om sy verfrissende buitestilering aan te vul.

Die derde model in die reeks is die Cross (net as luikrug beskikbaar) met sy kenmerkende ‘stadsavonturier’-beslag en doelontwerpte buitestilering.

Al drie modelle is ook op die gebied van hulle binneruime opgekikker om ’n beter gevoel vaneenheid te bied. Die driemanskap behou dieselfde beproefde onderstel- en dryfstelseluitleg.

Wat die vering betref, word ’n Macpherson-stuttipe ontwerp aan die voorkant ingespan. Die skokbrekers se stofverrigting is verbeter, wat ’n langer leeftyd in ’n stowwerige omgewing verseker. ’n Wringbalk-tipe veerstelsel word agter gebruik en pronk met ’n versterkte stut om hanteringstabiliteit in die hand te werk. Die demperstelsel is in sy geheel ingestel om ’n soepel, matige rit te bied wat hobbels in die pad met vertroue opslurp.

Geesdriftige enjin

Aandrywing geskied deur die ratse viersilinder-enjin van 1,5 liter wat 66 kW teen 5 600 r/min en 132 Nm teen 3 000 r/min lewer. Een van hierdie enjin se uitstaande kenmerke is sy vermoë om hoë enjinsnelhede te handhaaf en hoë wringkrag teen lae enjinsnelhede te ontwikkel. Dit maak die Etios kinderspeletjies om deur digte verkeer te woel en terselfdertyd moeitelose snelwegverrigting te bied – veral vir ’n klein motor soos die Etios.

Die enjin gebruik die volgende tegnologie ten einde skitterende verrigting te bied:

– Olie-inspuitingstegnologie om die suiers te verkoel.
– Gevormde krukas en suierstange vir skitterende duursaamheid.
– Inlaatspruitstuk van hars ten gunste van ’n ligte struktuur.
– Elektronies beheerde versneller vir volmaakte enjinbeheer te alle tye en om – brandstofdoeltreffendheid en rybaarheid te verbeter.
– Saamgestelde hidrouliese enjinmontering aan die regterkant vir uitstaande ritgemak en lae vibrasie teen luiersnelhede.
– Dinamiese demper vir die enjinmontering aan die linkerkant om ratgeraas te verminder en sodoende min geraas en vibrasies in die ry oor te dra.

Dié lewendige enjin is aan ’n vyfgang-handratkas gekoppel wat die voorwiele aandryf, met ’n positiewe wisselaksie en ’n stylvolle ratkierieknop. Brandstofverbruik is nie oor die hoof gesien nie, en die sedanweergawe haal 5,9 liter per 100 kilometer terwyl die luikrug 6,0 litres per 100 kilometer aanteken. CO2-uitlaatgasse word eweneens laag gehou en kom op onderskeidelik 138 en 136 g/km te staan.

Veiligheid

Wat passiewe veiligheid betref, word die insittendes deur bestuurder- en passasierslugsakke beskerm. Aktiewe veiligheid behels sluitwerende remme (ABS), elektroniese remkragverdeling (EBD), styftrekkers en lasbeperkers vir die sitplekgordels sowel as ISOFIX-kindersitplekmonterings. Die volle kwota kopstutte word voorsien terwyl die agterste passasiers ook ’n driepunt-sitplekgordel in al die modelle het.

Bron: ProAgri/Toyota

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?