Mielie-uitvoer kry momentum

Suid-Afrika se mielie-uitvoer na buurlande begin effens rigting kry met 20 386 ton wit- en 4 954 ton geel mielies wat in die eerste twee weke van die nuwe bemarkingsjaar tot 12 Mei uitgevoer is.

Volgens die SA Graaninligtingsdiens (Sagis) se syfers is die meeste wit mielies na Zimbabwe, Botswana en Namibië uitgevoer, terwyl die meeste geel mielies vir Swaziland en Botswana bestem was.

Uitvoer na Taiwan
Amptelik word Suid-Afrika se uitvoer hierdie seisoen op 2,7 miljoen ton geraam. Graan SA verwag egter ’n surplus van 3,5 miljoen ton wat hoofsaaklik na lande soos Japan, Suid-Korea en Taiwan uitgevoer sal word. Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof, het aan Reuters gesê hy het verwag dat die eerste uitvoerpermitte vir Taiwan reeds uitgereik sou wees.

Mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom by die landbousakekamer Agbiz, sê meeste lande in Suider-Afrika het volop mielies, behalwe Kenia waar die reserwe volgens die nuusdiens Bloomberg op die oomblik net 4 500 ton is (minder as ’n dag se verbruik). “Die lande wat waarskynlik Kenia van mielies sal voorsien, is Zambië en Malawi. Weens beperkinge op geneties gemodifiseerde (GM) mielies, sal Suid-Afrika se deelname aan hierdie mark waarskynlik beperk wees.”

Bron: landbou.com

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?