Middelpos hou basaar

Middelpos is een van daardie juwele in Suid-Afrika, waar tyd vir ’n oomblik stilstaan en waar jy binne sekondes voel tyd is teruggedraai.  Middelpos is ’n klein dorpie tussen Calvinia en Sutherland, op die R354 en is een van die mees unieke en afgeleë Karoo-dorpies. Jy kan egter op Vrydag, 22 September by die Middelpos-basaar die dorp beleef soos nooit tevore!

“Die hele geweste beleef tans droogte, die veld kry swaar, die diere kry swaar, die gemeenskap kry swaar, daarom juis in hierdie tye is ’n geleentheid soos die Middelpos-basaar iets waarna almal uitsien,” sê Frances de Kock.

Die basaar gaan ’n saamkuier geleentheid wees en volgens de Kock hou hulle elke jaar nog op die eg tradisionele manier basaar. Die “hoofstraat” word gesluit en voor en binne die kerksaaltjie gebeur alles. Daar sal ook volgens De Kock heerlike gebak, gebraai, gelag en die belangrikste die samesyn en kuier wees.

Hierdie jaar saam met die Middelpos-basaar open Madeleine Bothma ook die Middelpos Diensstasie wat sy onlangs gekoop en gerestoureer het. Volgens Bothma staan die hele Middelpos Diensstasie-projek eenkant van die basaar, maar omdat die basaar so ’n groot deel van die gemeenskap betrek, is dit die ideale geleentheid om almal hier te kry.

“Soos die besigheid se naam van ouds bekend gestaan het as Middelpos Diensstasie, is dit presies wat sy gaan doen. ’n Diens aan die gemeenskap lewer sowel as die toeris en nuuskierige wat Middelpos kom besoek,” verduidelik De Kock.

Die meeste mense in die gemeenskap het hier grootgeword, skoolgegaan, skoolgehou of ingetrou, maar eenmaal ’n Middelposser, altyd ’n Middelposser,” sê Bothma en voeg by dat sy besluit het om die diensstasie te koop oor haar man en sy ouers, broer en susters goeie tye daar deurgebring en diep spore gelos het en op hulle manier wil hulle weer iets teruggee aan die mense.

Die diensstasie gaan volgens De Kock ’n aftrekplek met ’n verskil wees, met die hoofdoel om ’n diens te bied aan almal wat die Diensstasie besoek.

“Of dit nou is vir ’n papwiel wat herstel moet word, ’n belangrike e-pos wat gelees moet word, of ’n rugbytelling wat gekyk moet word, alles onder een dak,” sê De Kock.

Die persoon wat Middelpos besoek of verbyry, mag nie hier wegry sonder om die Diensstasie te besoek nie. Dit moet hul brandstof vir die siel wees vir die pad wat voorlê,” sê Bothma.

Die Middelpos Diensstasie hou hul amptelike opening met ’n nostalgiese “Vintage Dress Up”  saam met Teubes Wyne op Vrydag, 22 September.

“Kom sit langbeen met ’n heerlike koppie sop en vars gebakte brood om ’n tradisionele houtstoof met ’n glasie wyn wat dit alles komplementeer – as ’n afskop vir die Middelpos-basaarnaweek,” sê De Kock.

Vir meer inligting kontak Madeleine Bothma by 073 260 5305 of stuur gerus ’n e-pos regstreeks aan haar by madeleine@hantam.co.za.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?