Mediterreense pasta-en-maalvleisskottel

Probeer hierdie smullekker Mediterreense paste-en-maalvleisskottel. Genoeg vir 4

Bestanddele:
3 eetlepels olie
2 groot uie, fyngekap
1 mollige knoffeltoontjie, gekneus en fyngekap
1 rooi brandrissie, naatjies en pitjies verwyder en fyngekap
300 g maalvleis
1 groot of 2 kleiner rooi soetrissies, wit gedeeltes en pitjies verwyder en in repies gesny
4 murpampoentjies,in ringetjies gesny
1 x 250 g houer knopiesampioene, in skyfies gesny
1 eiervrug, in blokkies gesny
4 klein of 2 groot tamaties, opgekap
1 eetlepel vars gekapte origanum of 1 teelepel droog
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
3 koppies beesvleisaftreksel
⅓ – ½ van 500 g pak spaghetti, in stukkies gebreek

Metode:
Verhit die olie in ’n swaartboomkastrol en braai die uie daarin tot sag en deurskynend. Voeg die knoffeltoontjies en brandrissie by en braai nog vir ’n minuut of twee. Voeg die vleis by en roer met ’n vurk sodat daar nie klonte vorm nie. Braai totdat die vleis heeltemal verkleur het en lekker lossies is. Voeg die soetrissies by en braai vir ’n paar minute saam voordat jy die murgpampoentjies, sampioene, eiervrug, tamaties en origanum byvoeg. Meng alles goed saam en geur met sout en peper. Giet 2 koppies van die aftreksel by, verlaag die hitte, bedek die pot en laat vir 20 minute prut of totdat die groente mooi sag en die vleis gaar is. Roer die spaghetti by en voeg die oorblywende koppie aftreksel by indien die vloeistof te min is. Laat vir 20 minute prut of totdat die pasta sag en die vloeistof weggekook het. Bedien met ’n lekker vars slaai.

Wenk:
Dis beter om een koppie van die aftreksel terug te hou omdat dit moeilik is om te voorspel hoeveel vloeistof uit die groente gaan kook. Die meeste van die tyd sal dit wel nodig wees om die derde koppie aftreksel by te voeg wanneer jy die pasta in die pot sit.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?