Maak jou huis snoesig vir die winter

Winter is in volle gang en net soos die natuur hom gereed maak om ’n nuwe baadjie aan te trek, moet ons ook ons huise bietjie aanpas en meer snoesig maak vir dié seisoen. Drie Kaapse binnenshuise ontwerpers deel hul gunstelingwinter-dekoritems met ons.

 

Belangrike dekoritems vir winter

Om die igloe-effek van winter te voorkom, stel Lynette Monsson van Seed Design in Woodstock voor dat jy weelderige, gebreide items soos komberse, ottomans en kussings oral neersit. “Ongeveer 20% van die hitte word deur die vensters uitgelaat, belê dus ook in dikker gordyne.” Bykomstighede van hout, herfskleure en muurpapier sal ook ’n meer intieme, warmer gevoel aan die vertrek verleen.

 

Yvonne Kramer van Yvonne Kramer Interiors in Houtbaai dink ’n verskuifbare kaggel is die een ding wat elke huis moet hê. “ ’n Kaggel laat die vertrek snoesig en warm voel.” John Autard van ADB Designs and Decoration sê ryk, warm kleure en getekstureerde materiale is ideaal vir die winter. Katoen-beddegoed sal jou ook ’n bietjie warmer laat slaap.

 

Autard noem dat jy tydens wintermaande meer tyd binnenshuis deurbring, daarom is dit ’n goeie idee om voor die winter aanbreek, ontslae te raak van al die rommel in jou huis. “Fokus daarop om dit meer gesellig te maak.” Matte sal die prentjie baie mooi afrond. Hoe kry die kenners hul eie huise snoesig en reg vir die winter. Kramer trek haar beddens oor met warmer winterbeddegoed: “ ’n Kwilt of beddeken vir gewig en styl met ’n oorgooideken.” Sy het ook in windbestande vensters en deure belê.

 

Monsson se grootste doel is om haar gesin warm te hou. “Ek haal al my goeie gehalte-linne, oorgooidekens en strooikussings uit.” Kramer sê haar sagte matte word uitgesleep en lê langs haar bed.
Die drie stem saam dat kerse ’n vertrek warmer laat voel. Autard sê vloerbeligting gee sy huis ’n warmer gevoel. Potte met helderkleurige blomme in plaas van groen plante bring ook meer kleur in die huis. “Skuif jou meubels en bykomstighede rond sodat die vertrek so gemaklik moontlik is,” sê hy. Niks maak jou huis warmer as ’n vuurtjie nie. Kramer stel voor dat jy ’n paar druppels essensiële olie in die vuur gooi om die vertrek vars te laat ruik. En natuurlik, die belangrikste bykomstighede gedurende winter is ’n koppie sop of heerlike warm nagereg onder ’n dik kombers of saam met vriende om die kaggel.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?