LSV ontvang verskeie toekennings tydens Vredendal Sportklub se jaareindfunksie

Vredendal Sportklub het op Dinsdag, 28 November hul jaarlikse jaareindfunksie by Letsatsi Lodge op Vanrhynsdorp gehou. Die aand was gevul met verskeie toekennings wat strek van Vredendaller van die jaar tot sportman en -vrou van die jaar.

Die welbekende Stokkies van Zyl het opgetree as seremonie-meester en die gasspreker was Anita Engelbrecht. Anita het die gaste geboei met ’n uitstekende praatjie wat die mense in vervoering gehad het. Sy het die gehoor met die volgende boodskap gelaat: “As jy weet wie jy is, waarheen jy op pad is en weet waar jou krag vandaan kom, kan niks verkeerd gaan nie.”

Hierna was dit tyd vir die prysuitdeling. Volgens Cobus Nieuwoudt, assistent-onderwyser by Laerskool Vredendal (LSV), het LSV weereens presteer deurdat drie toekennings aan opvoeders na dié skool se kant toe gekom het. Mev. Adriana Rust van LSV het namens haar gewese man JP die legende-erkenning ontvang. Mev. CA Booyse is aangewys as afrigter van die jaar en mnr. Hentis Burger het die trofee ontvang vir skole-sportpersoon van die jaar.

“Die erkennings stop egter nie hier nie. Leerders van LSV het self ’n hele rits toekennings ingepalm. Laerskool Vredendal se skaakspan is as junior sportspan van die jaar aangewys, PF Strauss het die toekenning vir junior skole-sportman ontvang en Sumari van Niekerk is as junior skole-sportvrou aangewys,” het Nieuwoudt gesê.

Laerskool Vredendal wens een en elk van hierdie persone geluk met hul uitstekende prestasies. Harde werk gee kinderdrome vlerke en dit is beslis te sien in bogenoemde prestasies.

Foto verskaf deur My Matzikama

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?