LSV afsluitingsfunksie – Sterre 2017

Laerskool Vredendal se jaarlikse afsluitingsfunksie het elke deelnemer sowel as toeskouer  saamgeneem op ’n ”sirkus-avontuur”. Hierdie praggeleentheid bly jaarliks volgens Cobus Nieuwoudt, assistent-onderwyser by Laerskool Vredendal, ’n hoogtepunt op die skoolkalender weens die verhoogoptrede van die skool se talentvolle leerders en puik leerderprestasies.  

Akademiese, sport- en kultuurtoekennings is oorhandig en die skolierpatrollie het sertifikate ontvang. Die akademiese wenners vir 2017 is as volg:

  • Corrine-Mari van der Westhuyzen (gr.4)  
  • Jan-Hendré Spamer (gr.5)
  • Kimmy Knoetze (gr.6)
  • Anchen Fouché (gr. 7).  

Laerskool Vredendal se hoofborge, nl. mnr. Albie Fouché, mev. Kim Knoetze, mnr. Marcus Greeff, Die Keldery, Tiger Brands en Old Mutual is ook spesiaal bedank.

Die ringmeester – alias mnr. Nico de Kock – het gou gesorg dat alle toeskouers gemaklik en in die regte stemming is. Die skoolhoof, mnr. Moon, se jaarverslag het volgens Nieuwoudt dit baie duidelik gestel dat die skool met ’n verskeidenheid sirkuskarakters wat almal hul talente uitgeleef het, ingekleur word.

Die graad sewes het met oorgawe hul afskeidslied “I’ll always remember you”, wat deur Chanél Engelbrecht verwerk is, gesing. Lambrecht en Anchen het na hul afskeidsboodskap aan die skoolhoof ’n baie welkome kontantbedrag oorhandig.

Die hoofleerderverteenwoordigers vir 2018, nl. Tokkie de Waal en Wilmien Vos, onderhoofleerderverteenwoordigers Eduard Kellermann en Karla Strauss en die sestien leerder-verteenwoordigers is ook aangekondig.

Aan die einde van die aand is Laerskool Vredendal se ouers, leerders en personeel huis toe, geïnspireer deur die gedagte dat harde werk kinderdrome vlerke gee.

Foto’s verskaf deur Rooi Raam.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?