Liga-kampioene maak ondersteuners trots

Die Boland Noord-Weste liga-kampioene, Young Spurs van Doringbaai het op Saterdag, 26 Augustus kragte gemeet teen Invincible RVK (Swartes) op Vredendal-Noord se sportterrein. Beide spanne van Young Spurs het hul teenstanders weer eens ore aangesit.

Die A-span van Young Spurs het Invincible RVK met 22-19 geklop. Die puntemakers: Drieë: Patricio Frisley (2), Charl van Wyk (1) en Herchelle Abrahams (1). Dalian Fredericks het gesorg vir een doelskop.

Die A-span van Invincible RVK se puntemakers: Drieë: Dimitri Isaks. Stelskoppe en strafskoppe is oorgesit deur Ashwin Oortman. Ashley Isaacs het ook gesorg vir twee stelskoppe.

Young Spurs se B-span het hul teenstanders met 20-16 geklop. Drieë is gedruk deur Denzil Syster (2), Lincoln Stevens (1) en Arno Don (1). Geen doel of strafskoppe is oorgesit nie.

Puntemakers van Invincible RVK se B-span is as volg: Drieë: Heinz Schmidt. Stelskoppe en strafskoppe is oorgesit deur Cameron Cloete.

Volgens Clayton Kordom, finansiële beampte van Young Spurs, het die manne van Young Spurs hul laaste liga-wedstryde met goeie sportmanskap teen Invincible RVK gespeel.

Eerskomende Saterdag, 2 September begin die top 12 uitdunronde en Young Spurs (vanjaar se liga-kampioene in die Matzikama-streek) gaan kragte meet op hul tuisbodem teen die Porteville-rugbyklub.

Die wedstryde gaan beslis die kyk werd wees, so maak seker jy mis dit nie. Die spelers wat Young Spurs in die top 12 gaan verteenwoordig, sal nog bekend gemaak word.

Volgens Petrus van Zyl, die B-span afrigter van Invincible RVK, het die B-span van Young Spurs met die regte houding opgedaag en hoewel die wedstryd gelykop verloop het, het Young Spurs die wedstryd gewen kort voor die eindfluitjie geblaas is.

“Die hoofwedstryd is teen hoë tempo gespeel en Young Spurs wou ook kom wys waarom hulle vanjaar se liga-kampioene is. Goeie voorspelerspel aan beide kante van die A-spanne en die Swartes met hul skitterende agterlyn het die skare op hul voete gehad,” sê Van Zyl.

Van Zyl voeg ook by dat die wedstryd van die A-span enige kant toe kon swaai, maar Young Spurs het toe die wendrie voor die eindfluitjie gedruk.

“Aan die kant van Invincible RVK het hulle ʼn goeie seisoen beleef en Invincible RVK eindig derde op die Boland Noord-Weste punteleer vir die seisoen,” sê van Zyl.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?