Liewe Kersfeesvader volg in voetspore van ander Kersflieks

Die nuwe plaaslike familierolprent, Liewe Kersfeesvader, met Etienne Fourie (Dis Koue Kos, Skat) as regisseur en vervaardig deur Stefan Enslin (Strikdas, Nul is Nie Niks Nie), word op 17 November landwyd in teaters uitgereik en is die eerste Afrikaanse film wat dit waag om die gewilde genre van Kersrolprente te betree. Die rolprent speel af in die stil, dorre Karoo en bevat genoeg onortodokse karakters om ’n sirkustent vol te maak.

Hoewel die rolprent die boustene van die Kers-genre gebruik, bied dit ’n unieke Suid-Afrikaanse blik op hierdie vreugdevolle en geliefde, maar ook gevreesde en spanningsvolle vakansie van die jaar. In Liewe Kersfeesvader word komedie ingespan om die slaggate wat die feesseisoen noodwendig oplewer, te omseil. Dit is egter nie die enigste benadering nie en ons het die afgelope tyd rolprente oor Kersfees in verskillende gewade gesien.

Gehore is deur die jare betower, vermaak, geskok, geboei of bloot verwar deur die groot hoeveelheid rolprente in, en verskillende sienings oor, die Kers-genre. Dié prente wissel van aanpaste klassieke prente soos die Charles Dickens-gunsteling, A Christmas Carol, geanimeerde juweeltjies soos Tim Burton se uiters oorspronklike A Nightmare Before Christmas, 3D CG-geanimeerde komedies soos Arthur Christmas, en Bruce Willis se groot lokettreffer Die Hard, asook die neo-noir donker komedie, Kiss Kiss Bang Bang met Robert Downey Junior en Val Kilmer.

Liewe Kersfeesvader het waarskynlik meer in gemeen met Tim Allen se 1994-treffer, The Santa Clause, waar Allen na ’n ongeluk en ’n reis na die noordpool die rol van die bebaarde man aanneem en geleidelik in Santa verander. Dit val ook in dieselfde kraal as The Family Stone en National Lampoon’s Christmas Vacation.

“Etienne Fourie het daarin geslaag om die mallerigheid en chaos van die familie-Kersfees in sy draaiboek vas te vang, wat dit verskriklik snaaks maar terselfdertyd ook baie aandoenlik maak,” het vervaardiger Stefan Enslin van Faith in Motion Productions, wat films vir die gesinsmark vervaardig gesê. “Liewe Kersfeesvader is eiesoortig en uniek Suid-Afrikaans in aanbieding en gevoel, maar handel oor soveel universele temas dat die tekortkominge van die karakters dadelik herkenbaar is, en wat die kyker by hulle laat aanklank vind.”

Die rolprent is deur Etienne Fourie geskryf met Morné Visser, Mila Guy, Milan Murray, Dean-John Smith, June van Merch, Terence Bridgett, Melt Sieberhagen en die nuweling Eloff Snyman as Hugo, in die rolverdeling.

Liewe Kersfeesvader word deur Times Media Films versprei.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?