Lewende hawe voer botoon met Veeskool

Verskeie kursusgangers by die Aldam-veeskool het ook ’n kleinveeboerdery. Dus is die veeskool aangepas om ook in bok- en skaapboere se behoeftes te voorsien. Bywoners van die Aldam-veeskool word bevoordeel danksy die kennis wat hulle van moderne boerderymetodes inwin. Vanjaar se tema – deelname aan die rooivleiswaardeketting deur middel van verbeterde bestuurspraktyke – gaan nóg meer mense bemagtig.

Indien ’n mens terugkyk na die temas en inhoud van die vorige agt Aldam-veeskole, sien jy die skool voldoen aan sy mandaat om die betrokkenes in die rooivleis-waardeketting nader aan mekaar te bring – van opkomende, kommersiële en stoetboere tot voerkrale, abattoirs en handelaars.

Die skool rus plaaslike lewendehaweprodusente toe met toepaslike kennis om internasionaal mededingend te wees, sê dr. Michael Bradfield, organiseerder van die Aldam-veeskool en hoof van Breedplan Suider-Afrika.

Die negende Veeskool word van 18 tot 20 Oktober by die Aldam-vakansieoord tussen Ventersburg en Winburg onder die vaandel van die Lewendehawe Registrerende Owerheid en Landbouweekblad gehou.

“Verlede jaar se tema van vleisgehalte en die behoeftes van die verbruiker het die toonaangewende belanghebbendes in die rooivleisbedryf die nodige insig gegee om te verstaan ons kan waarde tot ons produk toevoeg om so meer geld vir almal in die waardeketting te verdien,” sê Bradfield.

Vanjaar se tema – deelname aan die rooivleiswaardeketting deur middel van verbeterde bestuurspraktyke – gaan nóg meer klem lê op wat die lewendehawebedryf kan doen om meer professioneel te boer.

Kleinveeboere
Opnames het getoon ’n beduidende getal kursusgangers het ook ’n kleinveeboerdery. Die organiseerders het dus besluit om die skool aan te pas om ook in hul behoeftes te voorsien.

Hoewel die meeste van die hoofsprekers se lesings oor die algemeen oor rooivleisproduksie gaan, word sessies spesifiek vir skaap- en bokboere beplan. Bradfield sê die beste internasionale sprekers word weer na die Veeskool genooi, wat twee buitelandse kenners insluit.

Die een spreker is mnr. Don Schiefelbein, lid van ’n gesin van nege broers wat een van Amerika se grootste vleisbeesboerderye in die deelstaat Minnesota behartig. Dié boerdery is in 1955 begin en het mettertyd gegroei tot ’n reusagtige onderneming om plek vir die nageslag te skep.

Die ander buitelander is mnr. Jason Strong, hoof van die AA Company in Australië. Dit is een van die wêreld se grootste vleisbeesboerderye en dek die hele waardeketting, waaronder voer. Die Veeskool word ook deur talle plaaslike kenners van rooivleisproduksie versterk.

Benut potensiaal
Bradfield sê die Suider-Afrikaanse rooivleisbedryf moet sy volle potensiaal benut deur te verstaan hoe die res van die wêreld werk. Die plaaslike bedryf se voordele en leemtes moet geïdentifiseer word. “Verlede jaar se droogte was ’n wekroep vir die hele bedryf. Die groot voerkrale wat vleis begin uitvoer het, besef nou wat dit verg om internasionaal mededingend te wees. Dit is egter onmoontlik om sommer die internasionale mark te betree deur te dink jou vleis kan met hoëwaardesnitte van ander internasionale Westerse lande meeding,” sê hy.

Suid-Afrika sal eers ’n eenvoudige, maar doeltreffende, naspeurbaarheidstelsel in werking moet stel. “Die opvatting oor ons vleisgehalte moet ook verander word deur dit in terme van smaaklikheid en eetgehalte te verbeter. Hoewel plaaslike verbruikers dalk vertroue in ons rooivleis het, is dit nie noodwendig die geval met internasionale verbruikers nie.

“Die gejaag na ’n goedkoper produk deur ons eie handel moet ook end kry. Vleis is nie net ’n kommoditeit nie, maar moet as ’n hoëwaarde-produk beskou word. Indien ons internasionaal wil meeding, moet ons bereid wees om ’n groter bydrae tot navorsing en ontwikkeling te lewer. Die huidige bydrae plaas ons beslis in die kategorie van ’n ontwikkelende land en sal op die lang termyn beteken dat ons in ’n groef vasval waaruit ons nie maklik sal kom nie. Inteendeel, ons is dalk reeds in ’n groef.”

Die jaarlikse blootstelling van die plaaslike rooivleisbedryf en veral veeboere aan die wêreld se voorste kenners, plaaslike leierboere en ander belanghebbendes, soos die handel, stel alle betrokkenes in die waardeketting in staat om ál meer waarde uit die rooivleisbedryf te kry.

 

Bron: Landbou.com

 

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?