Wenke vir ’n verstopte drein

Daar is niks so aaklig soos ’n verstopte drein nie. Drywende water wat nie wil wegspoel in jou wasbak nie kan ’n nagmerrie wees. As jy die volgende wenke volg sal jou dreinverstopping in ’n japtrap opgelos kan word.

’n Verstopte drein is dikwels die resultaat van voorwerpe wat in jou pype versamel en vassit. As die verstopping in jou badkamer wasbak, stort of bad is, kan dit heel moontlik afkomstig wees van hare. Elke keer wanneer jy hare was of skeer sal daar ’n hoeveelheid hare by jou pype afspoel en dit veroorsaak dat daar mettertyd ’n verstopping in jou pype ontstaan. Wanneer jou kombuis se opwasbak gevul staan met water wat nie wil wegloop nie, kan dit heel moontlik afkomstig wees van olie en kos wat jou opwasbakpype verstop. Die beste raad vir so ’n situasie is om jou plaaslike loodgieter te kontak. Daar is baie ander alternatiewe oplossings wat jy kan probeer vir ’n verstopte drein as jy nie ’n enorme rekening van die loodgieter wil verwag nie.

  • Asyn en koeksoda

Hierdie mengsel is doeltreffend vir ligte verstoppings. Maak seker jou wasbak is leeg. Jy kan die oortollige water uitskep voordat jy hierdie metode probeer. Neem ongeveer ’n koppie koeksoda en gooi dit in die uitloopgaatjie. Maak seker die koeksoda val in die pyp. Neem volgende twee koppies asyn en gooi dit bo oor die koeksoda ook in die gaatjie. Jy sal sien die mengsel begin borrel. Laat dit staan vir 20 minute en laat loop warm water by die drein af. As die water steeds nie wil wegspoel nie, kan jy kookwater in drein gooi. As hierdie wenk onsuksesvol is, is die verstopping waarskynlik te groot.

  • Rubbersuier (plunger)

Hierdie metode is baie algemeen en doeltreffend. Plaas die suier oor die uitloopgaatjie en maak seker alle ander uitloopgate wat verbind is aan mekaar, is toe met ’n prop. Beweeg die suier op en af dat dit ’n suigaksie vorm bo-oor die uitloopgaatjie. Dít wat die verstopping veroorsaak het, sal uitkom met die suigaksie.

  • Metaaldraad

Jy kan ’n metaaldraad met ’n gebuigde hakie by die drein afdruk en liggies voel hoe diep en waar die verstopping lê. Aangesien dreinpype baie draaie maak, kan die blokkasie in enige van die hoeke lê. Dit is dus goed as jy kan weet hoe diep en by watter draai die verstopping lê. Wees net versigtig om nie die blokkasie verder by die drein af te druk en die verstopping erger te maak nie.

As nie een van hierdie wenke vir jou werk nie, sal dit die beste wees om ’n loodgieter te skakel. As ’n verstopping nie op die regte manier opgelos word nie kan dit skade aan jou pype aanrig en die herstel daarvan kan ’n duur affêre raak.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

© 2019 MyMatzikama. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?