Wat jy moet weet van gluten

Ons weet almal koring bevat baie koolhidrate. Maar dié graansoort – en ook rog en gort – bevat ook verskeie proteïene, en een van dié proteïene is gluten.

Allergies vir gluten: die simptome

Jy het moontlik ’n gluten-allergie as jy simptome het soos opgeblasenheid, maagkrampe en naarheid, en ook ’n loopneus, ’n postnasale drup, asma met benoudheid en fluitbors, of ekseem met galbulte wat jeuk, naarheid en diarree. Gluten-allergie is die gevolg van ’n immuniteitsreaksie en die gluten-teenliggame sal in jou bloedmonster teenwoordig wees. Gluten- of koringallergie kan op enige ouderdom ontwikkel. As bloedtoetse nie bevestig het dat jy aan koring-allergie ly nie, is dit veiliger om eerder van gluten-sensitiwiteit te praat. Jy is moontlik gluten-intolerant as jy bogenoemde simptome ervaar, asook gewrigspyn en gewigsverlies. Jy ly dan waarskynlik aan seliak-siekte (celiac disease), wat geneties en oorerflik is.

Wat jy moet weet

Vir die meeste van ons is koring en al sy koolhidrate en proteïene voedsaam en ’n uitstekende bron van energie. Maar sommige mense voel olik nadat hulle koring, rog of gort geëet het. Dit kan die gevolg wees van ’n glutenallergie, of van gluten-intoleransie (gluten-sensitiwiteit). Gluten-allergie en gluten-intoleransie is twee verskillende gesondheidsprobleme. Die eerste en belangrikste stap in die behandeling van albei is om gluten – en dus koring – te vermy. Maar omdat die algehele uitskakeling van koring en koringprodukte tot ’n vitamien B-tekort kan lei, is dit die beste om jou dokter te spreek om vas te stel of jy bykomende behandeling nodig het en om die regte B-aanvulling te neem.

Goeie nuus

Heelwat glutenvrye produkte is beskikbaar, asook ’n verskeidenheid glutenvryemeelsoorte – soja, aartappel-, kekerertjie-, bokwiet- (buckwheat), pylwortel- (arrow root) en mielieblom-meel. ’n Glutenvrye dieet kan wél mielies, rys, aartappels, patats, kassawe, tapioka en sago insluit.

Bron: Sarie

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?