Versier met jou persoonlikheid

Wanneer jy jou huis se binnekant verfraai, is daar een goue reël: Gebruik elemente wat jou persoonlikheid weerspieël, want daarvoor sal jy nooit moeg word nie. Karien Jordaan van die tydskrif Get It het by Bloemfontein binnehuisversierder, Hendrik Theart, gaan inloer en ’n klomp wyshede uit dié kreatiewe man se mond verneem.

Om jou huis ‘mooi’ te maak is ’n proses – dit gebeur nie in ’n oogwink soos dikwels op televisie uitgebeeld word nie. Iemand swaai nie ’n towerstaffie en die ‘perfekte’ huis verskyn nie. Moenie oorhaastig wees nie. Dit kan maande, selfs jare, neem voordat jou huis is soos jy gelukkig daarin voel.

Wanneer jou huis ‘tuis’ word, berus en weerstaan die versoeking om nog en nog te wil hê en weer en weer te wil verander. Gaan hou liewer vakansie! Die lewe gaan oor veel meer as om ‘n ‘mooi’ huis te hê. Ons het almal ook ander emosionele stimuli nodig.

Al hoe meer mense put inspirasie uit die natuur. Jy kan dit ook in jou huis inbring om jou siel te voed. Fraai meubels voed die siel, maar net tydelik. Hoe nooi ek die natuur in? Gebruik aardse kleure – sanderige, vuilerige skakerings en aardse teksture. Gebruik hout vir ’n knus gevoel. Moenie die hout donkerder kleur nie, maar gebruik die kleur soos wat dit natuurlik voorkom.

Bly weg van onnatuurlike glansafwerkings – ’n mat afwerking is veel beter. Maak jou vensters ‘groter’ – meer glas, minder gordyn. Laag-op-laag swaar gordyne is uit. Wanneer jy deur ’n venster kyk, wil jy immers die bome en voëls daar buite kan sien.

Koop dit wat jou gelukkig maak, nie jou buurvrou of skoonma nie. Omring jou daarmee. Binnehuisversiering is ’n leerproses oor jouself. Soos wat die klere wat jy dra by jou persoonlikheid en liggaamsbou pas, so moet die binnekant van jou woonplek ook by jou pas. Dit maak geen sin om ’n Boheemse styl te skep as jy heimlik van Art Deco hou nie.

Jou meubels, ornamente, matte en skilderye moet vir jou mooi wees, dit moet vir jou plesier verskaf. Laat jou persoonlikheid jou lei en moenie bang wees om foute te maak nie. Daar bestaan nie ’n ding soos ’n perfekte huis nie. Geniet jou huis, jouself, jou gesin en jou lewe – jy het dit net een keer.

Nog ’n belangrike reël is om nie ’n spul goed te koop om jou huis so gou as moontlik ‘vol’ te kry nie. Koop liewer elke jaar een stuk wat jy regtig graag wil hê. As jy ‘goedkoop’ koop sal jy waarskynlik baie gou moeg raak daarvoor. Dit sal verweer, afslyt of lostrek en jy sal dit letterlik moet weggooi of weggee.

Goedkoop koop bly nou maar eenmaal duurkoop. Spaar liewer vir daardie spesiale item, waarna jy vir die res van jou lewe elke dag graag sal wil kyk. Koop stukke wat by die tema waarvan jy hou pas.

Moenie al jou goed op dieselfde tyd in jou huis uitstal nie. Pak dit weg en ruil dít wat jy uitstal gereeld om met dit wat al half vergete in die motorhuis lê. Die verrassing van ’n item wat skielik weer verskyn vir jou, jou gesin en jul kuiermense kan kosbaar en ’n heerlike besprekingspunt wees.

Die spreekwoord lui juis dat verandering so goed soos ’n vakansie is. Die sentiment wat jy aan iets het, gaan nie verdwyn as dit vir ’n rukkie in die motorhuis moet woon nie.

Besluit watter meubels moet waai en verkoop dit – al is dit teen ’n appel en ’n ei. Plaas die meubels wat jy behou, in balans. Koop nuwe meubels waar nodig. Besluit dan op die muurkleur en vensterbedekking. En dan pak jy jou goedjies uit.

Bron: Get it tydskrif

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?