Van uitstel kom afstel

Uitstel is die vyand van produktiwiteit. Jy voel ook heeltyd skuldig en kan nie eintlik op iets anders konsentreer nie. Hier is raad.

Sodra jy ’n taak uitstel, bevind jy jou in ’n baie ongemaklike posisie. Jy kry niks gedoen nie en jy geniet ook niks. Hoewel almal by tye ongemotiveerd voel, dit kan nie ’n verskoning wees nie.

1. Moenie sleg voel oor jouself omdat jy uitstel nie

Niemand hou daarvan om onplesierige take uit te voer nie. Dit is baie maklik om sleg te voel as jy aanhou om moeilike werk uit te stel. Jy vermy dalk al vir ’n week die klomp eposse wat jy moet stuur. Jy wens jy was nie so onproduktief nie. Dit is dan maklik om fout te vind met jouself. Om so oor jou self te dink breek egter net jou selfbeeld af. Maar erger nog, dit gaan jou beslis nie motiveer om op te hou uitstel nie. Die oomblik wat jy jouself kleiner maak in jou gedagtes, maak jy die taak groter. Hoe meer intimiderend dit is, hoe groter is die kans dat jy nie gemotiveerd sal wees om dit te verrig nie. En dan sal jy net nog wyer draaie om jou inbox loop.

2. Maak die moeilike take kleiner en makliker

Daardie voorlegging wat jy moet klaarmaak, lê soos ’n berg voor jou. Maar ’n goeie manier om daarna te kyk is soos die ou grappie wat vra hoe jy ’n olifant eet. Die antwoord: stukkie vir stukkie. Dit is ook die beste manier om te werk te gaan as jy iets moet doen wat jy eerder sal wil uitstel. Jy kan verskeie stappe vir jou projek uitwerk en dan net een op ’n slag afhandel, byvoorbeeld om net een bladsy of selfs net een paragraaf te skryf om mee te begin. Of werk net ’n kort rukkie op ’n slag daaraan. Gebruik die stophorlosie op jou selfoon en stel dit vir net vyf minute. Werk dan daardie vyf minute, en hou dan op as die tyd om is. Fokus vir ’n rukkie jou aandag op iets anders en stel dan weer die stophorlosie vir vyf minute.

3. Jy het nie motivering nodig om te begin nie

Jy stel waarskynlik uit om die verslag te skryf omdat jy glo kan dit net doen as jy gemotiveerd voel daarvoor. Maar as jy dáárvoor gaan wag, gaan jy dit nooit doen nie. Niemand het ’n onuitputlike bron van wilskrag nie. Jy hoef nie gemotiveerd te wees om iets te begin doen nie. Soms moet jy dit net eenvoudig doen omdat dit gedoen moet word. Fokus op eenvoudige aksies, soos om jou rekenaar aan te skakel. Deur veral op die fisiese aspekte van ’n taak konsentreer en eers dit te doen, sal jy voel of jy darem al iets uitgerig het, byvoorbeeld deur net ’n lêer oop te maak, voel jy al klaar meer produktief. Begin net – die motivering sal kom namate jy met die werk vorder.

4. Maak tyd vir aktiwiteite wat jou aandag kan aftrek

Daar is min dinge wat soveel tyd kan opvreet soos sosiale media, maar dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie. As jy jouself kort-kort op Facebook betrap terwyl jy eintlik moet werk, gun dit vir jouself. ’n Goeie strategie is om ’n spesifieke tyd opsy te sit vir aktiwiteite wat jy geniet. In hierdie tyd kan jy dit dan doen sonder om skuldig te voel. As jy na jou skedule kyk en besef hoeveel minder tyd jy vir jou werk het, sal jy gou skrik. Jy sal dan gemotiveerd wees om meer produktief te wees in die tyd wat jy wel werk. En dit is altyd goed om ’n blaaskans te vat, want dan sal jou aandag moeiliker afgelei word.

As jy al die moeilike werk afgehandel het, kan jy met ’n skoon gewete ontspan, want dan sal jy niks meer hê om oor skuldig te voel nie.

Bron: Voel goed

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?