Tropiese verleiding – mangojellie

Hierdie jellie is net die ding om te maak – dis so lekker, jy sal al jou mango’s sommer begin ryp wens. As jy nie lemmetjies in die hande kan kry nie, of voel dis te duur, kan jy gewone suurlemoen gebruik.

Bestanddele:

1 groot ryp mango, geskil en in stukke gesny

Sap van 2 lemmetjies (of suurlemoene)

½ koppie strooisuiker

1½ koppie vars lemoensap

3 teelepels (1 koevertjie) poeiergelatien

Metode:

  1. Verpulp die mangostukke in ’n voedelverwerker en voeg die lemmetjie- of suurlemoensap by.
  2. Gooi die mengsel in ’n maatbeker uit – jy het 1 koppie vloeistof nodig. As die pulp ’n bietjie te min is, kan jy dit met ’n bietjie water of ekstra lemoensap aanvul. (Ek verpulp gewoonlik sommer 2 mango’s op ’n slag en gebruik dit wat oorbly, verdun met lemoensap as ’n heerlike verkwikkende drankie.)
  3. Gooi die suiker en die lemoensap in ’n kastrol en verhit oor matige hitte.
  4. Roer totdat die suiker opgelos het.
  5. Giet die vloeistof in ’n hittebestande glasbak en sprinkel die gelatien bo-oor.
  6. Roer en maak seker die gelatien het heeltemal opgelos.
  7. Roer nou die mangomengsel by en skep in klein vormpies, bakkies of selfs glase en laat oornag in die yskas om behoorlik te stol.

Resep verskaf deur Toorkombuis. Vor nog smullekker resepte besoek Toorkombuis se webtuiste by toorkombuis.co.za/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?