Tradisionele skaapskenkelpastei

Theunis Kotzé, eienaar van Nieuwoudtville Slaghuis & Abattoir, sê dat hy vanjaar weer uitsien na sy ma, Erika Kotze, se tradisionele skaapskenkelpastei op hul Kerstafel. Dié gereg word steeds voorberei soos die Kotzé-familie geslagte gelede gedoen het:

Vulsel:

Kook 2 kg skaapskenkels in water met 2 teelepels sout tot sag. Hou 250 ml van die aftreksel eenkant. Ontbeen en sny die vleis in stukkies. Voeg 1 eetlepel kookolie in ’n pan en braai een gekapte ui tot ligbruin. Voeg vleis by en braai tot bruin. Voeg aftreksel by.

Meng 2 eetlepels koekmeel, ’n halwe pakkie sampioensoppoeier en ’n koppie melk in ’n klein potjie. Voeg een blik sampioene en 10 ml matige mosterd by en prut liggies vir 5 minute. Haal van die stoof af en voeg 1 koppie gerasperde kaas by. Geur met sout en peper. Meng die sous met die vleismengsel en skep die vulsel in ’n oondbak.

Kors:

Meng ’n halwe koppie melk, ’n halwe koppie sonneblomolie, 1 eier, 200 ml koekmeel; 10 ml bakpoeier en sout. Skep die kors bo-op die vleis en sprei dit uit tot teen die kante. Pak gesnyde uieringe bo-op. Bak die pastei by 180 grade Celsius vir 20 minute. Bedien warm. Hierdie heerlike pastei lewer agt porsies.

Berig verskaf deur www.facebook.com/nieuwoudtvilleslaghuis/ . Hou hul Facebook-blad dop vir weeklikse aanbiedinge en resepte of besoek nieuwoudtvilleslaghuis.com of bokveldlam.com vir meer inligting.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

© 2019 MyMatzikama. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?