Sewe hulpmiddels vir sonbrand

In die Matzikama-streek is daar dae wat die temperatuur tot en met 40 grade styg. In sulke warm omstandighede wil almal swem, maar dan eet die son jou op. Soms brand jy steeds, al het jy sonskerm aangesmeer en dan is jou hele lyf seer en jy is ongemaklik. Hieronder volg ’n paar maniere oor hoe jy dit kan behandel in die gemak van jou eie huis.

1. Gebruik appelasyn
Daar word geglo dit help om blase te keer en te keer dat jy afdop, en dit kalmeer en verkoel ook die vel namate die asyn verdamp. Wend appelasyn met watteballetjies of ’n sagte lap aan, of voeg dit by jou badwater.

2. Wend aalwynsap aan
Die dik, jel-agtige sap van aloe vera-plante kan die irritasie en rooiheid verlig wat deur sonbrand veroorsaak word. Dié helende plant is by die meeste kwekerye beskikbaar. Sny eenvoudig een van die blare oop en wend die jel direk op die gebrande vel aan. Wend dit vyf tot ses keer daagliks aan.

3. Bly koel
Maak ’n kouewaterkompres deur ’n waslap in koel water te week en dit direk op die gebrande dele aan te wend. (Moet nooit ys of yspakke op ’n songebrande vel gebruik nie.) Los dit vir ’n paar minute en maak die lap gereeld nat om dit koel te hou. Herhaal dit ’n paar keer gedurende die dag wanneer nodig vir verligting.

4. Ontspan in ’n bruisende bad
Voeg ’n paar opgehoopte eetlepels koeksoda by koel badwater voordat jy in die bad klim. Moet egter nie vir langer as 15 minute in die bad bly nie, want dit kan jou seer vel selfs meer uitdroog. En druk jou vel met ’n handdoek droog, want as jy dit vryf, sal dit jou vel irriteer.

5. Drink baie water
Die son het jou vel gedehidreer. Maak dus seker jy drink baie vloeistof (verkieslik nie kafeïen of alkohol nie) terwyl jy van sonbrand herstel.

6. Bevog jou vel gereeld
Die son het jou vel uitgedroog en hoewel ’n koel bad en kouewaterkompresse die pyn kan verlig, stroop dit die vel van vog. Wend vogroom aan direk nadat jy gebad of gestort het. Vir ekstra-koel verligting, hou die vogroom in die yskas.

7. Drink ’n ligte pynverligter
Oor-die-toonbank-opsies soos aspirien en ibuprofen kan pyn verlig en help keer dat ’n songebrande vel ontsteek.

Ongeag watter middel jy kies, onthou die uitwerking wat die sonbrand op jou vel gehad het, en vermy volgende keer oorblootstelling aan die son.
Bron: Tuis

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?