Selfdoengeskenke vir Kersfees

Dit is weer daardie tyd van die jaar waar almal opsoek is na die perfekte geskenke om te koop vir Kersfees, maar soms sien jy nie kans om vir ure en ure rond te loop en om in lang rye te staan nie. ’n Ander opsie is om die geskenke in die gemak van jou huis te maak, sonder enige steurnis of om rond te loop in winkels. Boonop tel dit as ’n stokperdjie en bied dit jou terapeutiese voordele. Steel daai spesiale persoon se hart deur vir hom of haar ’n selfdoen Kersgeskenk te maak. Jy kan ook jou hele gesin betrek by so ’n projek en dus jou kinders tydens hul vakansie besig hou.

  • Kry ’n eenvoudige maar mooi hout fotoraam en verf dit met verskillende kleure of kies ’n kleur waarvan daardie spesiale persoon hou. Skryf ’n mooi boodskap op gekleurde papier en plaas dit in die fotoraam of jy kan selfs ’n foto binne-in plaas.
  • Jy kan ook drupmatjies maak. Al wat jy doen is om sirkels uit gekleurde karton te sny. Skryf dan ook mooi boodskappe op die gekleurde karton. Seël die matjies met wit gom en laat dit droog raak.
  • Kry oulike en klein papierpakkies wat jy kan vul met heerlike vars happies, tuisgebakte koekies en vele meer. Kry ook ’n kaartjie wat jy kan byvoeg en skryf ’n mooi boodskap op die kaartjie.  
  • Jy kan ook ’n mooi boodskap laat grafeer op ’n hangertjie, sleutelhouer of armband.
  • Koop ’n eenvoudige voorskoot en verf die persoon se naam of ’n spesiale en oulike boodskap op die voorskoot.
  • Koop ’n gewone swart hardebandboek en verander dit in ’n gebedsboekie of dagboek. Jy kan dit oortrek met mooi papier of materiaal of selfs iets mooi tik en in die boek plak.
  • Maak ’n houtkissie en sit daai persoon se gunsteling items in die kissie.
  • Leer hoe om te brei en maak ’n trui, ’n serp of selfs ’n paar slaapsokkies.
  • Bak ’n verskeidenheid koekies en verpak dit in mooi versierde sakkies of boksies. Niks sê liefde soos tuisgebakte koekies nie!

Dit is maar net ’n paar van die selfgemaakte geskenke wat jy kan maak. Dink uit die boks en probeer om een van die geskenke te maak. Dit is sakpas geskenke waarop jy nie ’n fortuin hoef te spandeer nie.

Het jy enige interessante selfdoen-idees of -wenke? Stuur dit vir ons na mymatzikama@lumico.co.za of stuur vir ons ’n boodskap op ons Facebook-blad.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?