Om beter te kan hoor my kind

“Ouma, hoekom is Ouma se ore so rooi?”, die wolf het nie dié vraag verwag nie en voor hy kon antwoord besef Rooikappie dat dit nie haar Ouma is nie, maar die wolf! “Jy is nie my Ouma nie, my Ouma het antwoorde vir alles!” sê Rooikappie en skop die wolf laat hy hik en vir Ouma vrylaat. ’n Mens se ore word soms bloedrooi en vuurwarm. Soms net een oor op ’n slag, maar hoekom?

Dit is geen toeval dat jou ore begin gloei nie. Wanneer ore warm voel en rooi verkleur kan dit gepaard gaan met ’n ongemaklike brandende sensasie. Soms word jou ore so warm dat dit pynlik en sensitief is wanneer jy daaraan probeer raak. Daar is verskeie redes hoekom jou ore  dramaties rooi vertoon.

Wanneer mens sonskerm aan jou gesig smeer is jy geneig om jou ore mis te smeer. Jou ore is deel van jou gesig en as jy vergeet om hulle te beskerm soos die res van jou gesig kan hulle lelik deurloop onder die son se ongenadige strale. Wanneer jou ore vir te lank in son was kan hulle sekerlik sonbrand opdoen. Die vel op jou oor kan droog word en vervel. Jy kan ’n koel, klam lap op jou ore plaas of behandel met ’n verkoelende aalwynroom om sonbrand te verlig. Dra gerus volgende keer ’n groot sonhoed om sonbrand te vermy.

As jy baie van iemand hou, vinnig skaam word of oorweldigend angstig word, is mens geneig om te bloos – soms tot in jou ore. Hierdie emosionele reaksie het meer te doen met jou hormone en jy hoef jou nie daaroor te bekommer nie. Jou bloedvate word dus groter oopgesprei as ’n  nagevolg en bloed stroom vinniger daardeur. Maak volgende keer van jou skaamte die onderwerp van gesprek wanneer jy met daardie spesiale persoon gesels. Dalk het julle iets in gemeen.

’n Verandering in temperatuur kan bydra tot jou rooi ore. Wanneer jy in erge koue is probeer jou liggaam om sy temperatuur te reguleer. Jou wange, ore en neus is die eerste liggaamsdele wat gevolglik aandui dat hulle koud kry. Dra maar ’n serp of ’n mus om jou liggaam te help met die regulasie van temperatuur.

Wanneer jy of jou kind pyn ervaar wanneer jou ore rooi word, kan dit dalk dui op ’n oorinfeksie. Oorinfeksies hou gewoonlik nie lank nie en die simptome verdwyn gewoonlik na ’n paar dae. Die simptome wat gewoonlik daarmee gepaard gaan, is irritasie, swak eetlus, slapeloosheid, koors en soms skei jou ore ’n vloeistof af. Jy kan dus by die apteek vir die nodige medikasie vra om die infeksie te beveg.

As jy vermoed jy ly aan ’n rooi-oor-siekte, is jy dalk reg. Daar bestaan ’n toestand genaamd rooi-oor-sindroom. Simptome is ’n brand- of pynlike sensasie by jou oorskulp en beweeg soms tot in jou wange en kake. Die sensasie duur vir ’n halfuur tot ’n uur en mense wat aan die sindroom ly, ervaar die sensasie soms tot twintig keer per dag, aan-en-af, regdeur die jaar. Met die toestand kry jy gewoonlik ook erge hoofpyn. Die toestand is in 1994 vir die eerste keer gediagnoseer en mediese kenners poog om die dit permanent hok te slaan. Rooi-oor-sindroom word soms met anti-inflammatoriese medikasie behandel of jy kan bloot net jou ore koel hou met ’n klam lappie en ys.

Jy kan ook ly aan ’n siekte wat jou bloedvate verstop. Die toestand kan aangebring word deur verskeie faktore – oefening, warm temperatuur, selfs lemoene. Besoek jou huisdokter sodat hy/sy jou kan ondersoek en die regte medikasie aan jou voorskryf. Indien jy swelling, probleme met jou balans of erge pyn ervaar moet jy onmiddellik ’n dokter gaan sien.

Maak seker van jou toestand sodat jy beter kan hoor en nie verder ly aan ’n vuurwarm blosende gelaat nie. Tensy jy verlief is.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?