Nege wenke vir ’n groener huis

Wil jou jou huis opknap? Hier is nege wenke vir ’n groener huis.

1. Begin met die basiese dinge
Isolering is die goedkoopste manier om jou blyplek se temperatuur – en elektrisiteitrekening – matig te hou. Isoleer die dak, mure en vloer; meer as 40% van hitte ontsnap deur ongeïsoleerde mure en dakke. Nog 20% van hitte ontsnap deur vensters en hier is dubbele glas die beste isoleerder.

2. Kies beproefde stelsels
Werk met gevestigde tegnologie, produkte en maatskappye.

3. Hou dit eenvoudig
Hoewel ’n mens soms jou oë moet toeknyp en ’n nuwe ding probeer, glo mense hoe eenvoudiger die oplossing, hoe beter die moontlikheid dat dit gaan werk. As dit klink of dit dinge meer ingewikkeld gaan maak – dié stelsel is nodig om daardie een aan die gang te hou wat weer hierdie een gaan meet – kan jy maar bekommerd wees. Dit sal onderhoud en heelwat tegniese vernuf verg, wat jou duur te staan kan kom as jy dit nie self kan doen nie.

4. ’n Plan vir warm water
Warm water maak die grootste elektrisiteitbesparings moontlik. Sonverhittingstelsels is minder doeltreffend in woonstelblokke of enige gebou waar die panele ver van die watertenk is. As jy nie die panele en tenk naby mekaar kan installeer nie, installeer liefs ’n warmwaterpomp.

5. Verhit van onder
Die voordele van ondervloerverhitting wat met waterpype werk, is fantasties, veral as jy een van daardie gewilde maar bibberkoue sementvloere het. So ’n stelsel kan jou verhittingsrekening met tot 60% verminder. Dit verhoog die vloer se temperatuur tot sowat 23 ºC, wat die byt uit die vloer haal sonder om dit te warm te maak. Elektriese ondervloerverhitting verbruik weer geweldig baie elektrisiteit. Dit veroorsaak lugstrominge wat stof laat dwarrel en vermors heelwat krag omdat die warm lug opstyg en by die plafon beland.

6. Ja vir ’n eko-swembad
Om ’n natuurlike of eko-swembad in stand te hou is nie ’n chemie-eksperiment nie, maar meer soos om ’n tuin netjies te hou. Ja, dis amper herfs, maar as jy jou swembad in ’n eko-poel wil verander, neem dit drie tot ses maande om die plante en waterplante te vestig, daarom is die herfs of winter ’n goeie tyd vir dié oorskakeling. In ’n eko-swembad word plante en gruis as filters gebruik, en die sysagte water is iets wat jy aan jou vel moet voel om dit te kan glo.

7. Plant ’n boom of drie
Jou tuin en die omgewing kan sonlig met behulp van bome op strategiese plekke beheer. Plant ’n ry populierbome aan die westekant van jou huis. In die somer werk dit soos ’n reuse-hortjie wat die son afkeer, maar in die winter, wanneer die son welkom is, is dié bome sonder blare.

8. Grootte maak saak
Hoe groter die huis, hoe meer materiale, onderhoud, verhitting en skoonmaakwerk het jy en dít raak nie goedkoper nie. Maak liewer die gemeenskaplike vertrek groter en hou ander vertrekke kleiner. Skep veeldoelige vertrekke: Het jy regtig ’n aparte sitkamer, TV-kamer en speelkamer nodig?

9. Wat van sonkrag?
As jy in ’n kleiner huis bly en die kontant het, installeer ’n sonkragstelsel. ’n Paneel kan meestal net vir ’n yskas, ’n paar rekenaars, gloeilampe en die laai van selfone en kameras krag voorsien. Sodra jy ’n wasmasjien, tuimeldroër, skottelgoedwasser, swembadpomp en televisie byvoeg, moet jy besin oor hoe nodig jy regtig dié toestelle het.

Berig verskaf deur sterre.co.za/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?