Motiveer jou kind só vir die laaste kwartaal

Die laaste kwart van 2018 is hier en almal is onseker of dit ’n goeie of slegte ding is. Hierdie tyd kan beskryf word as ’n storm voor die stilte want almal is in vyfde rat besig om die jaar se los toutjies saam te trek vir hulle om die Desember-vakansie ten volle te kan geniet. Jy mag dit dalk nie besef nie, maar jou kind ervaar dieselfde stres.

Om jou kind nóú te motiveer, is dalk meer nodig as wat dit aan die begin van ’n nuwe skooljaar is. Wanneer jy jou kind motiveer, moet dit nie net gegrond word op skoolverwante aktiwiteite nie. Jou kind mag dalk net nog meer onder druk voel om te presteer. Daar is meer prettige maniere van motivering.

Julle kan saam ’n ‘dae-af-tel’-rooster maak. Daarmee kan julle byvoorbeeld elke week of tweede week iets pret doen oor die naweek. Dalk piekniek hou of miskien ’n fliek-aand of dag op die rusbank hê. Julle kan miskien ’n kunsklas op ’n Saterdagoggend bywoon of dalk net jou kind toelaat om laat te slaap op ’n Saterdagoggend.

Jy kan ook klein doelwitte stel as jou kind dalk vroeg begin studeer vir die finale eksamen. Gee klein ‘geskenkies’ as jou kind sekere hoofstukke klaar studeer het. Bederf hulle met hul gunsteling maaltyd, ’n nuwe DVD of enigiets waarin jou kind belang stel. Op die langtermyn kan jy dalk jou kind die Kersfees-geskenk gee wat hy of sy graag wil hê as persoonlike akademiese doelwitte bereik het. Onthou dat jou kind ook hul beste (wil) doen in alle omstandighede, so moet hom of haar nie weerhou van ’n langverwagte geskenk nie. Moenie onnodige druk op jou kind plaas om goed te presteer nie. Kinders het deesdae vele ander dinge wat ook stres in hul lewens veroorsaak.

Jy kan dinge nog meer pret maak deur ’n gek van jouself te maak op sosiale media. Sosiale media het die mees prettigste en vreemste uitdagings wat mense aanpak. Daar is dansvideo’s, kunstige handwerk-uitdagings, en so meer. Belowe om ’n uitdaging aan te pak as hulle sekere doelwitte bereik of dalk net om die einde van ’n week te vier. Onthou om altyd veilig te wees. As jy nie gemaklik voel om rond te pronk op sosiale media nie, doen die uitdaging in die privaatheid van ou eie huis.

Onthou dat jou kind ondersteuning nodig het in hierdie stresvolle akademiese tyd. Luister elke uur of jy tee en koekies of ’n smulhappie kan aandra wanneer studie-tyd begin. Dit word ook soms baie eensaam om alleen te sit en studeer. Jy en jou kind kan saam in dieselfde vertrek wees as hy of sy studeer of huiswerk doen. Jy kan dalk ’n boek lees of ’n tydskrif deurblaai of dalk jou eie stokperdjie beoefen of dalk self inhaal op werk. Jy sal sommer ook byderhand wees as hy of sy hulp benodig met die skoolboeke.

As hierdie metodes nie help nie, herinner jou kind dat sy of haar harde werk nie te vergeefs gaan wees nie. Daar is ook ’n lekker vakansie wat wag na al die opofferinge. Dit sal ook ’n meer plesierige vakansie wees as hulle weet dat hulle hul beste gedoen het gedurende die jaar.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?