Leesklub

Met winter om die draai is dit tyd om goeie boeke en lekker tee op te gaar vir die reënweer wat kom. Liezel Malherbe van 9lives vertel vir ons ’n bietjie meer van haar nuutste boek.

Lees Klub: The Nowhere Man deur Gregg Hurwitz

In 2016 het skrywer Greg Hurwitz die karakter Evan Smoak aan die wêreld bekendgestel in sy boek, Orphan X.

Smoak was as ’n jong seun uit ’n kinderhuis gehaal en grootgemaak om deel te vorm van ’n program wat ’n staatsgeheim is. Die program is so diep verberg, dat feitlik niemand kennis gehad het van die program se bestaan nie. Smoak se rol in die program het geheime operasies ingesluit wat die staat enige kennis van ontken het.

Hy was toe net bekend as Orphan X.

Smoak het toe besluit om sy rug op die program te draai en het toe van die radar af verdwyn. Hy het sy uitsonderlike vernuf gebruik om mense wat nie in staat is om hulself te beskerm nie, te help. Hier tel sy nuutste boek, The Nowhere Man, die los stukke op. Die aksie begin al by die eerste hoofstuk en lesers hoef nie lang inleidende hoofstukke te verwag nie.

Evan Smoak is ’n tipiese Hollywood James Bond-tipe. Hy woon in ’n 650 m² woonstel in Los Angeles met bo-gemiddelde sekuriteit en ’n 40 m² versteekte kluis wat dien as sy wapen- en operasiesentrum. Hy is goed opgelei, ongetroud en sonder ’n verhouding (sy leefstyl laat dit nie toe nie), geen familie en hy werk slegs op sy eie. Evan help nie net die mense wat deur gevaar bedreig word nie, hy moet ook op sy hoede wees vir mense uit sy verlede as Orphan X wat hom wil doodmaak.

Die boek bestaan nie net uit opgemaakte situasies waar goeie mense gered word en slegte mense doodgaan nie. Smoak word gevang, bedwelm en weggevoer. Hy word wakker in ’n geslote kamer sonder ’n idee waar hy is of wie hom gevang het nie. Hy moet die legkaart van wat gebeur het bymekaar sit deur sy eie tronk en wagte se swakhede te toets. Terwyl hy daarmee besig was het hy ’n desperate roep om hulp ontvang.

Terwyl hy uit tyd uit hardloop, moet hy ’n vyand psigies en fisies oorwin. Hy moet homself beskerm om die mense wat op hom staat maak te kan veilig hou. Of doodgaan in die proses.

As jy hou van konstante aksie, waar die slegte ouens heeltyd verloor en doodgemaak word deur die held, is dié boek vir jou. The Nowhere Man is tog geskryf met aangrypende storielyn wat jou aandag behou tot die laaste bladsy ten spyte daarvan dat jy weet die held gaan al die onmoontlike situasies waarin hy homself bevind oorleef. Met alle eerlikheid gesê, is ek mal oor stories soos dié een. Ek geniet dit om die boek te lees net soos wat ek dit geniet het om die James Bond films te kyk.

Moenie ’n oorspronklike storie verwag nie. Geniet net die situasies waarin Evan Smoak homself bevind en hoe hy op sy slim manier uit dit uitkom.

R295, Penguin Random House

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?